Helpende Hand se #Breinaald-projek – Soveel meer as ‘n bolletjie wol!

Solidariteit Helpende Hand het onlangs ons #Breinaald-projek geloots.  Ons het besef dat die nood onder bejaardes nie net by fisiese behoeftes lê nie, maar dat eensaamheid en die gevoel van ‘doelloosheid’ soms ‘n groter problem is. Die laasgenoemde kan weer bydra tot ander probleme soos depressiwiteit. Daar sal altyd daardie bejaarde persoon wees wat daarna smag om ‘besig te bly’ en te ‘woeker’. Dit gee aan hul selfwaarde en dit laat hul positief oor die lewe voel.

‘n Projek soos die #Breinaald-projek het ongelooflike voordele vir bejaardes

 

‘n Mens moet onthou dat bejaardes ook eens op ‘n tyd ‘n loopbaan of daaglikse takies gehad het en elke dag opgestaan het met ‘n prentjie van wat hul die dag gaan verrig. Vir baie bejaardes is die laasgenoemde steeds ongelooflik belangrik. Dit is nodig om daardie prentjie en positiwiteit te behou die vlam aan die gang te hou.

Met hierdie projek vra ons aan die publiek om wol te skenk, maar die #Breinaald-projek is ongelooflik veeldoelig. Dit is ‘n ongelooflike opbouende, en ‘n verrykende ‘sielskos’ projek.  Ten eerstens vra ons aan vrywillige bejaardes in die gemeenskap om ons te help om truie en ander benodighede vir behoeftige kinders te brei. Tweedens dien dit ook as ‘n wonderlike geleentheid vir eensame bejaardes om hulself besig te hou met ‘n waardevolle doel voor oë: om ander te kan help. En laastens is daar min wintersklere wat ‘n klein lyfie so warm kan hou soos ‘n wollerige trui!

 

‘n Wol trui vir ‘n kind het verskeie voordele. Nie net is dit lekker snoesig nie, maar dit is nie-allergiese materiaal, sterker as ‘n gewone sweetpaktop en kan ‘n paar seisoene lank hou. Dit help ook om ‘n baba en kleuter se liggaamstemperatuur te reguleer en boonop is daar soveel mooi patrone vir kinders!

Om deel te word van hierdie projek deur wol te skenk, of om ons te help deur te brei, kontak gerus vir Benette by benette@helpendehand.co.za