Skip to content

Helpende Hand se nuutste hulpmiddel vir grondslagfase is ’n ware skatkis

Solidariteit Helpende Hand gaan vanjaar die onderwysers van behoeftige skole regoor die land bystaan met die implementering van ’n spesiale kis vol onderwyshulpmiddels. Die projek, bekend as Juffrou se Skatkis, is daarop gemik om al die grondslagfase-klasse van skole te bevorder. Dertig sulke skatkiste word eersdaags afgelewer.

Die tekort aan die nodige Afrikaanse hulpmiddels is ’n groot probleem vir baie onderwysers in staatskole en daarom is onderwysers dikwels genoodsaak om hulpmiddels uit eie sak aan te skaf. Die Juffrou se Skatkis wil graag hierdie probleem uit die weg ruim deur toe te sien dat die regte hulpmiddels beskikbaar is vir elke klaskamer in die land.

Die skatkis bevat skryfbehoeftes, pragtige Afrikaanse plakkate, legkaarte, blokkies en ’n springtou. Verder is daar ook ’n verskeidenheid handleidings in die kis. Die waarde van so ’n Skatkis is ongeveer R4000 en die volledige kis is slegs by Helpende Hand beskikbaar.

Die hoogtepunt van die skatkis is egter die opvoedkundige hulpmiddels soos die Skillie Skilpad-reeks, ’n hulpprogram vir Afrikaans wat op KABV-kurrikulum gerig is. Die reeks ontwikkel die leerders se ouditiewe taalontwikkeling deur rympies, liedjies, stories, vrae en geluide.

Die WriteRight-reeks is ook in die kis om met behulp van helderkleurige houtprodukte die skryfvaardighede van die leerders te verbeter.

Saam met die skatkis ontvang elke skool ook lidmaatskap tot die Vereniging van Afrikaanse Wiskundeonderwysers (V.A.W.), Helpende Hand se vakvereniging, sowel as lidmaatskap tot die Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT). Lidmaatskap by die verenigings sluit gratis opleiding deur Afrikaanse en wiskunde vakspesialiste in, sowel as werkkaarte en geleenthede om kongresse en kursusse by te woon.

“Die Juffrou se Skatkis is ʼn broodnodige projek vir onderwysers,” sê Marianda Schlebusch, projekorganiseerder by Helpende Hand. “So baie juffrouens het al te kenne gegee dat hulle hulpmiddels uit hul eie sakke moet koop. Afrikaanse hulpmiddels word ook nie deur die departement voorsien nie en is moeilik bekombaar.”

Skole wat belangstel om hierdie skatkis te bekom, kan hul naaste Helpende Hand-tak kontak en hoor wat die vereistes is. Helpende Hand se droom is om ʼn skatkis in elke Afrikaanse skool in die land te kry.

Vir meer inligting oor die projek, kontak Marianda Schlebusch op 012 644 4390 of stuur ʼn e-pos aan [email protected]