Helpende Hand spreek swak leesvermoë met Skooltassie-projek aan

Die dreigende krisis in Suid-Afrikaanse kinders se leesvermoë word vanjaar deur Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek aangespreek. Dit volg na die organisasie bevind het dat 55% van behoeftige kleuters nog nooit ’n leesboek besit het nie.

 

Helpende Hand het onlangs navorsing gedoen onder ongeveer 60 skole om te bepaal wat die grootste behoefte is wat die tassie hierdie jaar moet aanspreek. Die navorsing dui daarop dat slegs 45% van die skole se Gr. R leerders leesboeke by die huis het.

 

Daarom het Helpende Hand besluit om vanjaar ’n Bybelleesboekie in die tassie te sit sodat elke kind ’n eie-boekie het. Die hoop is dat die insluiting van die leesboekie reeds van ’n vroeë ouderdom kinders sal inspireer om te lees en daarmee hulle opvoeding ’n hupstoot te gee.

 

Volgens Margolé Riekert, projekorganiseerder van die Skooltassie-projek, het die tekort aan skryfbehoeftes breedvoerige gevolge op die opvoeding van die kinders. “Die tekort dra by tot die swak leesvermoëns en moet daadwerklik aangespreek word indien daar ’n verbetering in the leesvermoë van hierdie kinders gaan kom,” sê Riekert.

 

“Dit sluit aan by die PIRLS verslag wat gewys het dat 78% van Suid-Afrikaners in gr. 4 nie met begrip kan lees nie.”

 

“Die Skooltassieprojek is tweeledig, op die korttermyn verlig dit ekonomiese druk regoor die land maar op die langtermyn spreek die projek lees aan deur die leesboekie wat in die tassie is. Kinders moet kan lees om te leer.”

 

Die Skooltassieprojek poog om ʼn onmisbare bydrae in kinders se lewens te maak en behoeftige Gr.1’s regoor die land in staat te stel om hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats te begin.

 

Die inhoud van die tassies sluit onder andere die volgende in: uitdraaikryte, ʼn legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ʼn liniaal, ʼn skerpmaker, ʼn skêr, ʼn uitveër, gom, pennesakkies en ʼn witbord met penne. Die waarde van die tassie met sy inhoud is ongeveer R380.

 

Helpende Hand deel hierdie jaar ongeveer 4 600 tassies uit. Meer as 170 skole regoor die land het aansoek gedoen om tassies. Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur die woord “Tassie” na 42266 te SMS en betrokke te raak by die projek. ’n SMS kos R30, of besoek www.tassie.co.za.

Wil jy graag 'n verskil maak?

Word 'n Solidariteit Helpende Hand ondersteuner!