Skip to content

Helpende Hand stel drie-ledige strategie bekend om aan 94 afgestorwe gestremdes ’n stem te gee

Solidariteit Helpende Hand gaan ’n klasaksiegeding teen die departement van gesondheid loods na die tragiese dood van minstens 94 gestremde pasiënte. Helpende Hand is van mening dat die pasiënte in die sorg van nie-regeringsorganisasies oorgeplaas is sonder dat die departement van gesondheid genoegsame voorbereiding getref het vir die oorplasings wat deur die departement gemagtig is.

 

Die aksie sal deel uit maak van ’n drie-ledige strategie om die Life-Esedemi-strategie aan te spreek. Helpende Hand wil nou ʼn klasaksiegeding van stapel stuur namens die families wat eis dat daar geregtigheid vir hul afgestorwe geliefdes moet geskied. Weens die growwe mate van nalatigheid deur die departement het die oorlewendes onnodige pyn en lyding deurgemaak.

 

Helpende Hand wil aansoek doen vir ’n strukturele interdik om die departement te dwing om binne 90 dae op ’n gestruktureerde basis onder die howe se toesig planne aan die hof voor te lê om te verseker dat so ʼn situasie nie weer sal voorkom nie. Die voorgestelde interdik sal dan ook versoek dat die staat binne 90 dae na die eerste verskyning weer aan die hof moet voorlê hoe die planne geïmplementeer is. Helpende Hand wil die hof ook versoek om die saak te verwys na die klagtes wat ingedien is by Direktoraat vir Openbare Vervolging (DOV).

 

Volgens dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand, is die verval van die staat aan die wortel van hierdie tragedie en sal dié organisasie nie meer toekyk hoe onskuldige Suid-Afrikaners weens onbekwaamheid en ondeurdagte besluite ly nie.

 

“Ons wil ’n stem aan hierdie 94 slagoffers gee. Hul sterftes het ’n baken geword van ’n staat wat sy pligte versuim. Helpende Hand besef dat hierdie geding nie die lewens van die afgestorwenes kan terugbring nie, maar ons kan ook nie toelaat dat hulle in stilte sterf nie. Die departement van gesondheid se versuim om op die talle hulpkrete en waarskuwings te reageer, getuig van flagrante arrogansie. Die departement moet verantwoordelik gehou word,” het Hermann gesê.

 

Helpende Hand was vir maande lank met die Gautengse departement van gesondheid in ’n hofgeding betrokke oor die versorging van gestremde pasiënte by die Cullinan Care and Rehabilitation Centre.

 

Dié organisasie se regsverteenwoordigers het reeds op 9 Julie 2016, namens hul kliënt, die Siyabadinga Nie-Regeringsorganisasie, ’n dringende aansoek voor die Noord-Gautengse Hooggeregshof gebring. Aansoek is gedoen vir die aanstel van ’n kurator om beweerde growwe nalatigheid en mishandeling van pasiënte deur werkers van die departement van gesondheid te ondersoek. Alhoewel die aansoek op ’n dringende basis voor die hof gebring is, het daar ’n tydperk van drie weke verloop waartydens die saak nie minder nie as drie keer van regter na regter oorgeplaas is.

 

Op 5 Augustus 2016 is die saak wéér uitgestel. Regter Mabuse lewer uiteindelik op 9 Augustus 2016 uitspraak waar hy die saak met koste en sonder redes van die hand wys. Die gebrek aan redes vir die uitspraak staan vierkantig in die pad van Helpende Hand se regsverteenwoordigers om appèl aan te teken.  Na verskeie versoeke van Helpende Hand se regsverteenwoordigers het regter Mabuse steeds versuim om redes vir sy onverklaarbare uitspraak te lewer.

 

“Ons is geen ander keuse gelaat nie as om op 30 Augustus 2016 ’n versoek aan die adjunk-regter-president AP Ledwaba te rig ten einde regter Mabuse te dwing om redes vir sy uitspraak te lewer. In ’n skrywe gedateer 2 September 2016 onderneem regter Ledwaba om per instruksie regter Mabuse te maan om redes vir sy uitspraak te lewer.”

 

 

Volgens Riaan du Plooy, hoof van nasionale strukture by Helpende Hand, het die organisasie ’n lang pad met die pasiënte en hul families gestap. “Ons moes ook inspring en help om nog ’n tehuis toe te rus om van die pasiënte te kon akkommodeer wie se families ons versoek het om dit te doen. Ons Mpumalanga-streek is nóú hierby betrokke.”