Helpende Hand stig noodfonds vir Pretoriase kinderhuis

child_teddySolidariteit Helpende Hand het twee weke gelede ’n noodfonds gestig vir die President Kruger Kinderhuis in Pretoria wat een oggend in die vroeë oggendure beroof is.

Die kinderhuis se twee bussies en die kinders se fietse is gesteel. Een van die bussies is intussen met behulp van ʼn ingeboude opsporingstoestel in Mpumalanga opgespoor, maar die ander bussie is steeds nie gevind nie.

Volgens Retha van der Merwe, bemarker van die kinderhuis, was die bussies verseker, maar die geld wat hulle vir die vermiste bussie sal kry, sal nie naastenby genoeg wees om dit te vervang nie. Sy vertel dat die bussies van onskatbare waarde vir die kinderhuis is omdat die kinders elke dag daarmee skool toe en terug vervoer word.

“Dit is vir ons baie hartseer dat weerlose kinders wat reeds moeilike lewensomstandighede moet trotseer op so manier slagoffers van misdaad in ons land moet wees,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Helpende Hand wil graag die kinderhuis in hierdie krisistyd so ver as moontlik help en bystaan. Daarom het ons reeds R10 000 tot ʼn noodfonds bygedra. Ons droom is dat, met die ondersteuning van die publiek, ons in staat sal wees om soveel as moontlik van die kinderhuis se verliese te kan vervang.”

Helpende Hand doen ’n beroep op die publiek om tot die noodfonds by te dra deur “Kinderhuis” na 38969 te SMS en sodoende R10 te skenk. Persone wat graag direkte inbetalings wil doen, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]

Die President Kruger Kinderhuis huisves tans 63 Afrikaanse kinders tussen die ouderdom van twee en 18 jaar. Die kinders word op grond van ʼn hofbevel as gevolg van verskeie redes by die kinderhuis geplaas.