Helpende Hand stig tak vir gehoorgestremdes

Helpende Hand personeel saam met lede van die nuwe Nasionale Tak vir Gehoorgestremdheid

Phillip Bruwer

Solidariteit Helpende Hand het pas sy Nasionale Tak vir Gehoorgestremdheid gestig om die gawes van mense met gehoorgestremdhede te benut om saam ʼn verskil te maak.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, sê hy is baie opgewonde oor die stigting van die tak. Dit bring ʼn hele gemeenskap, wat tans buite staan, binne die Helpende Hand-familie in.

“Daar is vier kwesbare groepe waaraan Helpende Hand voortdurend hulp verleen  ̶  kinders, bejaardes, mense met gestremdhede en gesinne. Dit is belangrik vir Helpende Hand om na die holistiese welstand van die mense te kyk en op geestelike, emosionele, sosio-emosionele en kulturele vlak te probeer help,” sê Noëth.

“Die doel van die tak is om landwyd projekte vir mense met gehoorgestremdhede te skep. Ons droom groot van baie projekte, baie studiefondse, opleiding van tolke en om baie mense te help. Hierdie tak is nuut en enig in sy soort. Hierdie tak is vir ons ontsettend belangrik  ̶  as dit floreer dan maak dit deure vir nog takke soos dié oop,” sê hy.

Noëth sê Helpende Hand het reeds in 2020 sy netwerk van ere-ondersteuners bekend gemaak. Hulle is persone van 90 jaar en ouer en diegene wie se gestremdhede veroorsaak dat hulle nie meer ʼn inkomste kan verdien nie. Hierdie lede kan gratis by Helpende Hand aansluit om só hulle naastes te kan help.

Die tak bestaan uit mense met gehoorgestremdhede en uit mense wat kan hoor. Ansie Hoffman is die voorsitter en Benita Nel die hoofsekretaris. Twaalf personeellede van Helpende Hand maak ook deel van die tak uit en het entoesiasties ingestem om opgelei te word om in gebaretaal te kommunikeer.

“Ek glo die tak sal met God se wil ʼn enorme sukses wees. Ek is vreeslik opgewonde en sien uit na alles wat voorlê. Ek het ʼn groot passie en liefde vir die kultuur en mense met gehoorgestremdheid dat dit die vuur in my stook om ʼn sukses van die tak te maak,” sê Hoffman.

Sy sê die planne wat voorlê vir die nasionale tak gaan ʼn reuse-impak hê op die kommunikasiestruikelblokke wat gehoorgestremdes en mense wat kan hoor ervaar.

“Die hoofdoel is die bewusmaking van die gehoorgestremde wêreld, dié kan bereik word deur middel van werkswinkels, die opleiding van tolke en die leer van horende mense om kommunikasie te vergemaklik deur gebaretaal opleiding. Ons bied ook gebaretaal tolkdienste aan.

“Die nasionale tak gaan verskeie deure oop maak vir gehoorgestremde individue en ons sien uit om die eer te hê om die gebeurtenisse te kan sien plaasvind. Ek wil mense leer en inlig van die gehoorgestremde wêreld, want niemand verstaan totdat hulle dit beleef nie,” voeg Hoffman by.

Gabriel Hoffman, Ansie se broer wat self gehoorgestremd is, het reeds besluit om by die tak aan te sluit.

“Dit is ʼn groot eer om te weet dat daar ʼn deur vir persone met gehoorgestremdhede oopgaan. Die grootste taak is om mense bewus te maak dat mense wat doof is, nie dom is nie. Ons kan net so hard werk en kan ʼn groot verskil in die gemeenskap maak. Elke mens het iets om terug te gee. Ek is ʼn boer; ek is Afrikaans, en ek het baie om te bied,” sê Gabriel.

Om ʼn ere-ondersteuner te word, besoek www.onstrots.co.za. Mense wat by die Nasionale Tak vir Gehoorgestremdheid teen ʼn minimale bedrag van R50 per maand wil aansluit, kan ’n e-pos stuur aan [email protected] of besoek www.sluitaantak.co.za. Kies die opsie “Ansie Hoffman” onder “Agent”, en “Gehoorgestremdheid” onder “Tak”.