Helpende Hand vestig hul eie basiese gesondheidsorgsentrum

Die reg tot gesondheidsdienste is sekerlik een van die mees basiese behoeftes vir enige gemeenskap. Die verval in Suid-Afrika se mediese dienste is egter alombekend. Daarom het Solidariteit Helpende Hand saam met die gemeenskap van Witbank ’n basiese gesondheidsorgsentrum  op die been gebring het om na ons mense se behoeftes om te sien. Die opening het op 1 April 2017 plaasgevind.

Ons Spreekkamer is ’n inisiatief van Helpende Hand in samewerking met die Helpende Hand Witbank-tak en mediese praktisyns in die gemeenskap. Ons Spreekkamer maak gebruik van mediese praktisyns en susters wat pro-bono hul kennis en tyd opoffer om hul medemens te help. Die projek word gedryf deur Dr. Desiree Booysen van Witbank.

Volgens Annemarie van Heerden, voorsitter van die Helpende Hand-tak op Witbank, bied die sentrum hoop vir baie hopelose mense in hulle gemeenskap. “Ons is baie dankbaar vir die mediese praktisyns wat betrokke is en is altyd oop om hande te vat met nog mense wat kan en wil help,” sê Van Heerden.

Die dienste van die mediese personeel sal alleenlik beskikbaar wees op ’n verwysingsbasis. Geregistreerde netwerkvennote  in die gemeenskap sal die reg hê om individue wat aan die kriteria voldoen, na Ons Spreekkamer te verwys. Pasiënte sal dan behandeling sowel as medikasie by Ons Spreekkamer ontvang.

Pasiënte wat nie deur Ons Spreekkamer gehelp kan word nie, sal na ’n gepaste mediese praktisyn of staatshospitaal verwys word. Dit is belangrik dat pasiënte te alle tye eties korrek behandel word en hulle konfidensialiteit geniet.

Die geregistreerde netwerkvennote wat betrokke is, sluit kerke, skole, welsynsorganisasies en maatskaplike dienste in. Die vennote sal seker maak dat pasiënte by hulle afspraak opdaag indien daar ’n probleem met vervoer is. In meeste gevalle sal pasiënte hulle medikasie ook gratis ontvang om hulle behandeling doeltreffend te maak.

Volgens Riaan du Plooy,  adjunk-uitvoerende hoof van nasionale strukture, is dit ’n baie groot stap vir Helpende Hand. “Ons is baie opgewonde oor die sentrum. Dit wys dat gemeenskappe nog vir mekaar omgee. Ons wil graag Afrikaners leer om oplossings in hulle gemeenskap te vind vir hulle probleme en daarmee ’n sterker land te skep,” sê Du Plooy. “Dis hopelik die eerste van baie sulke inisiatiewe vir Helpende Hand.”

Vir meer inligting oor die gesondheidsentrum of om betrokke te raak, kontak vir Ansie Swanepoel op 076 148 3468. Of stuur ’n epos na [email protected].