Skip to content

Helpende Hand voorsien meisies in Witbank van sanitêre produkte

Foto1Die meisies in Hoër Tegniese Skool Witbank moes hul skaamheid laat staan toe Solidariteit Helpende Hand ’n aanbieding oor #HelpHanna kom lewer het. Die bekende aktrise, Amalia Uys, wat die projek se ambassadeur is, was ook daar in die rol van Hanna.

Onlangse navorsing deur Solidariteit Helpende Hand wys dat meer as 10% van skoolmeisies nie oor genoeg sanitêre produkte vir ’n maand beskik nie. ’n Verdere 7% het aangedui dat hulle skool misloop omdat hulle nie genoegsame sanitêre produkte het nie. Om die probleem op te los, het Helpende Hand onderneem om R500 000 te spandeer om sanitêre produkte aan behoeftige meisies te verskaf. Die projek skenk spesiale Hanna-pakkies met die nodige sanitêre produkte, Wet Wipes en ’n antiperspirant aan skole.

Na aanleiding van hierdie navorsing het Helpende Hand besluit om die #HelpHanna-projek te loods. Die organisasie staan skole en behoeftige meisies by deur op ’n maandelikse basis die nodige sanitêre ware aan die skool te skenk sodat hierdie behoefte nie meisies uit die skool hou nie. Verder wil Hanna meisies aanmoedig om nie skaam te wees oor hul siklus nie en om probleme met die regte persone te bespreek.

Helpende Hand het 600 pakkies aan die skool se dogters uitgedeel om die Witbank-gemeenskap bewus te maak van die projek. Die gemeenskap is die afgelope paar maande hard getref deur dreigende afleggings in die staalbedryf.

“Die realiteit is ongelukkig dat wat baie van ons as vanselfsprekend aanvaar, vir ander ’n luuksheid is wat hulle nie kan bekostig nie,” sê Michelle Burger, projekorganiseerder by Helpende Hand. “Een meisie het gevra of ons daar is om hulle te ‘bederf’ met die pakkies.”

Die eerste versending van meer as 3 500 Hanna-pakkies is reeds aan die begin van die vierde kwartaal versend en sal maandeliks na die skole gestuur word. Elke pakkie kos ongeveer R50 en word grátis aan die meisies geskenk. Dit beteken dat Helpende Hand oor die volgende drie maande ongeveer R175 000 per maand gaan bestee om meisies in die skool te hou.

Hou ons meisies in die skool! SMS die woord “helphanna” na 38969 en skenk R10 om meisies in die skool te hou. Skole wat belangstel om pakkies te ontvang, kan die projekorganiseerder, Michelle Burger, kontak by 012 644 4390, of stuur ʼn e-pos na [email protected]