Helpende Hand wil armoede met finansiële vernuf verbreek

armoede finansiële kundigheid entrepeneurskap

Die paneel van die #VerbreekArmoede-veldtog is van links: Lucas Coetsee, Hannes Noëth, Ronel Jooste en Ernst Vorster. Foto: Phillip Bruwer

Solidariteit Helpende Hand het Vrydag sy #VerbreekArmoede-veldtog bekendgestel om armoede met finansiële kundigheid hok te slaan.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Helpende Hand, het tydens ’n mediakonferensie in Centurion gesê dié welsynsorganisasie se hoofdoel is om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.

“Die rentevrye studielenings wat Helpende Hand se studiefonds jaarliks verskaf aan behoeftige studente wat verder wil studeer maar nie finansieel daartoe in staat is nie, beloop tans R38 miljoen en dra by tot die voorkoming van armoede.”

Volgens Noëth bestuur Helpende Hand se nagenoeg 160 takke landwyd deurlopend verskeie projekte om armoede te verlig. “Tog is dit noodsaaklik dat Helpende Hand ook die kwessie van verbreking van armoede daadwerklik takel. Vir dié rede het Helpende Hand hande gevat met twee finansiële ghoeroes, Ronel Jooste en Lukas Coetsee, om met die hulp van hul kennis armoede te verbreek,” het hy gesê.

Jooste is ’n CA(SA), finansiële konsultant, spreker en outeur. Sy gaan mense onder meer touwys maak oor finansies en hulle ook help om behoorlik te begroot.

“Ons almal probeer om armoede te verlig deur kos, klere en verblyf te verskaf, maar die vraag is doen ons regtig iets aan die onderliggende probleem. Ons maak daardie persoon se situasie ʼn bietjie beter, maar ons moet soms dieper delf en vra hoe kry ons daardie persoon heeltemal uit daardie situasie. Hoe help ons daardie persoon om self ’n bord kos te kan bekostig?”

Jooste meen een van die grootste oorsake van armoede ’n gebrek aan finansiële kennis.

“Ons leer nie van finansies op skool, universiteit of by ons ouers nie. Dit is waaraan ons met dié veldtog vanjaar wil aandag gee. Ons wil mense toerus met die nodige kennis om hul geld beter te bestuur en om beter finansiële besluite te neem.”

“My boek Financially Fit and Wealthy is pas gepubliseer. Saam met Helpende Hand gaan ons vanjaar ’n Geldfiks-gids, wat op my boek geskoei is, aan gemeenskappe landwyd versprei. Ons wil mense toerus met iets tasbaars wat hulle huis toe kan vat en gereeld na kan terugverwys wanneer hulle finansiële besluite moet maak. Ek tree gereeld op as spreker en met behulp van opleiding, die geldgids en aanlyn kursusse wil ons ’n daadwerklike verskil maak in arm gemeenskappe en só ook die middelklas bemagtig,” het sy bygevoeg.

Coetsee is die besturende direkteur van Entrepreneurs Wizard wat entrepreneurskap in Suid-Afrika bevorder en aanmoedig. Hy help opkomende entrepreneurs met die ontwikkeling van idees, die implementering daarvan en ondersteuning.

“Entrepreneurs Wizard gaan in samewerking met Helpende Hand twee kursusse aanbied vir opkomende entrepreneurs, wat hulle aanlyn kan voltooi. Die een kursus is gemik op toetreders tot die mark wat ’n klein onderneming wil begin met beperkte kapitaal, en die ander ’n meer gevorderde kursus vir die bou van ’n intensiewe besigheid – hopelik iets wat in ’n latere stadium op die aandelebeurs gelys kan word, plaaslik en in ander lande. Laasgenoemde is ideaal vir ’n jong mens wat onseker is wat om te studeer of ’n afgestudeerde persoon met blink planne vir sake,” het Coetsee gesê.

Coetsee het verduidelik die klem van hierdie kursusse is op die praktiese en unieke Suid-Afrikaanse konteks. Vir Helpende Hand studente word die kursus ook in Afrikaans aangebied. Die kort kursus duur 14 weke en die omvattende kursus 34 weke. Die kort kursus kos R3 000 en die lang kursus kos R20 000.

Noëth het gesê Helpende Hand gaan eersdaags ’n Entrepreneursfonds van stapel stuur, om soortgelyk soos Helpende Hand se Studiefonds, aspirant entrepreneurs met geld by te staan sou hulle die kursusse wou doen, maar nie finansieel daartoe in staat is nie.

Borge wat dié poging wil ondersteun kan meer inligting op www.helpendehand.co.za kry. ’n Kompetisie word ook eersdaags gehou om nege entrepreneurs te kies wat die kursusse gratis kan voltooi.

Ná afloop van die studies word ’n student ook bygestaan met die vestiging van ’n sakeonderneming en die begeleiding wat daarvoor nodig is.

“Die waarde van hierdie soort kennis en kundigheid is onskatbaar en word as ewigheidsleer gesien. As ons een persoon kan help, help ons inderwaarheid ’n hele gemeenskap,” het Coetsee bygevoeg.

Volgens Noëth is Helpende Hand se bedoeling met hierdie veldtog om mense te leer werk met wat hulle het en om hulle te leer om wat hulle het, te ontwikkel.

“Eenvoudiger gestel wil ons ons mense leer om rentmeesters (bestuurders) te wees van wat ons het en wat ons kan bereik. Ons hoop is dat hierdie veldtog, wat deur al ons takke in al die streke uitgevoer gaan word, stukkie vir stukkie ’n wesenlike verskil in die land kan maak,” het Noëth afgesluit.