Helpende Hand wil weer bejaardes help om te hoor

Sedert 2015 het Solidariteit Helpende Hand in samewerking met Impact Hearing al sowat 138 bejaardes gehelp met gehoorstukke ter waarde van nagenoeg R2,3 miljoen en vanjaar sal nog 20 bejaardes se lewensgehalte verbeter word deur dié inisiatief.

“Gehoorverlies is ʼn algemene probleem en bykans die helfte van alle persone bo 75 sukkel met gehoorverlies,” het Benette Rautenbach, projekorganiseerder by Helpende Hand, gesê.

“Dit het ʼn dramatiese gevolg op die lewe van ʼn bejaarde en dra dikwels by tot eensaamheid. Dié probleem kan egter maklik met ʼn gehoorapparaat aangespreek word, maar gehoorapparate is duur en talle bejaardes het net nie die nodige geld om dit te kan bekostig nie.”

Volgens Benette het ʼn onlangse studie wat deur Helpende Hand gedoen is, bevind dat medikasie en dié eenvoudige mediese apparaat van die grootste behoeftes onder bejaardes is.

“Die studie het getoon dat slegs 27% van bejaardes ʼn pensioen buiten die maandelikse SASSA-toelaag ontvang en ʼn skokkende 57% van dié bejaardes beskik nie oor ʼn mediese fonds nie,” het Benette bygevoeg.

Sy verduidelik dat gehoorverlies veroorsaak dat bejaardes nie meer goed kan reageer op waarskuwings, telefone wat lui, deurklokkies en selfs ook rookalarms nie.

“ʼn Eenvoudige uitstappie na iets so algemeen soos ʼn winkel, word vir hulle ʼn nagmerrie, aangesien hulle onder meer nie met die winkel se personeel kan kommunikeer nie. Hulle kan ook nie meer lekker gesels met familie en vriende nie, wat hulle baie geïsoleerd en eensaam laat voel. Ouderdomsverwante gehoorverlies vind meestal in beide ore plaas, wat veroorsaak dat bejaardes dit nie eens altyd besef dat hulle stelselmatig al hoe minder kan hoor nie,” het Benette gesê.

“Ons wil hierdie mediese nood wat so algemeen by bejaardes voorkom, help verlig en sal daarom weer met Impact Hearing se hulp vir 20 bejaardes gehoorstukke wil verskaf vir albei ore. Impact Hearing behartig die toetsing en passing in Gauteng,” het Benette gesê.

Benette het gesê vanjaar help die Instituut vir Gehoor ook met die insameling van tweedehandse gehoorapparate wat dan aan behoeftige kandidate geskenk gaan word.

Vir meer inligting, of om aansoek te doen, of om ’n tweedehandse gehoorapparate te skenk, e-pos Benette by [email protected] Die bejaarde kandidate moet in die Gauteng-omgewing wees, of self reël om daar te kom.