Helpende Kerke Kongres fokus op gesinswelstand

28 Maart 2025

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND MEDIAVERKLARING

Solidariteit Helpende Hand het die visier op gesinswelstand in die gemeenskap gerig om te ondersoek hoe gesonde gesinne lyk en watter rol kerke in hul welstand speel.

Die vyfde Helpende Kerke Kongres is op 27 Maart by Aros in Montanapark aangebied.

Die verrigtinge is afgeskop deur Carl Vermaak, waarna Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, ‘n toespraak gelewer het oor identiteit en God se plan vir gesinne. “Helpende Hand het vanjaar ons vyfde Kerke Kongres aangebied, en hierdie jaar was die fokus op die identiteit van gesinne. Ons het gefokus op gesinswelstand. ‘n Mens kan baie maklik vasval in gesinsgeweld, maar wat is die identiteit van ‘n gesin? Hoe lyk die rol van ‘n man, die rol van ‘n vrou, die rol van ‘n kind? Hoe lyk gesonde gesinne? Daarom het ons hierdie jaar baie sterk gefokus op gemeentes en gesinne en die rol wat gesinne in gemeentes speel asook die rol wat gemeentes in gesinne vervul.”

Noëth het verder beklemtoon dat dit nie net ‘n akademiese bespreking was nie, maar ‘n ware “kuieroggend” waar sterk saamgedink is oor die verantwoordelikhede van gesinslede teenoor mekaar. “Ons het gekyk na die gebrokenheid van gesinne, hoe ‘n mens hierdie gebrokenheid en die seer van gesinne moet hanteer, en die kerk se rol om daardie wonde te help heel. Die fokus het geval op die identiteit van die man, die vrou en die kind, maar eintlik ook op die gemeente in Christus.”

Ander sprekers het ingesluit Martin Janse van Rensburg, Maartje van der Westhuizen, Suzette Oosthuizen en Schalk Strauss. Almal het bygedra tot die bespreking van gesinswelstand en die bou van sterk gemeenskappe.

Volgens Noëth het die kongres oor die afgelope jare ontwikkel tot ‘n netwerk-inisiatief wat ‘n brug slaan tussen kerk- en maatskaplike strukture. “Toe ons vyf jaar terug begin het met die Helpende Kerke Kongres, was die bedoeling om netwerke met kerke te vestig. Sedertdien bied ons temas aan wat raakpunte met die kerk en die maatskaplike wêreld het. Daarom het ons oor die jare ook gekyk na die rol van kerkstrukture en hoe dit prakties bestuur kan word. Hierdie jaar se sterk fokus op gesinsidentiteit word opgevolg met ‘n reeks ontbyt-netwerke in verskillende streke. Ons bou nou weer aan die volgende vlak van skakeling, want die bedoeling van ons Helpende Kerke-projek is eenvoudig: Ons help die kerke, hulle help ons, en saam bou ons sterker gemeenskappe en bevorder ons welstand.” Hannes Noëth het klem gelê op die diep geestelike betekenis van gesinswelstand, veral binne die raamwerk van God se verbond. “Wanneer ons na die Skrif kyk, sien ons hoe God Homself verbind aan Sy mense – ‘n ewige verbond wat van geslag tot geslag voortduur. Dit is iets wat ons te dikwels misverstaan. Die verbond raak nie net jou verhouding met God nie, maar ook jou huwelik, jou kinders en selfs die manier waarop ons gesinne binne gemeenskappe funksioneer.”

Hy het verduidelik dat gesinne nie net strukture is wat op hul eie bestaan nie, maar deel vorm van ‘n groter goddelike plan. “Ons gesinne behoort verbondsgesinne te wees – gesinne wat lewe volgens God se bedoeling, wat Sy waardes oordra en wat verstaan dat ons nie net los individue is nie, maar deel van ‘n groter geloofsgemeenskap. Dit is hoekom ons nie net oor gesinswelstand moet praat nie, maar oor verbondsgesinne wat verantwoordelikheid neem vir mekaar en vir die toekoms.”

Volgens Noëth speel kerke ‘n belangrike rol in hierdie proses. “Ons sien vandag ‘n toename in maatskaplike probleme en gesinsgebrokenheid. Daar is ‘n verskuiwing in kultuur waar geloof en waardes nie meer vanselfsprekend oorgedra word nie. As kerk en gemeenskap moet ons hierop reageer – ons moet sterk, gesonde gesinne bou wat geloof en verbondsverantwoordelikheid ernstig opneem. Dit is deel van die groter plan om nie net gesinne te herstel nie, maar gemeenskappe sterker te maak.”

FOTOBYSKRIFTE:

1. Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

2. Gaste woon die kongres by.

//Einde

Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand

Phillip Bruwer

Mediaskakelbeampte

Artikel geplaas in ,