HelpHetta beskerm waardigheid van duisende skoolmeisies

Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand

Phillip Bruwer

Mediaskakelbeampte

Die HelpHetta-projek van Solidariteit Helpende Hand bring hoop en praktiese verligting vir meisies wat dit die nodigste het. Op 3 September het die Vrouebediening van Kerksondermure (KSM) in Centurion ’n groot skenking aan die projek gemaak. Die vroue het 12 bokse vol sanitêre ware ingesamel en in sakkies verpak. Daar was altesaam 18 480 doekies.

Volgens René Roux, Helpende Hand se woordvoerder, word daar met hierdie bydrae 1 848 pakkies saamgestel. Dit voorsien vir 462 meisies vanjaar in hul basiese behoeftes, binne ’n projek waar 3 600 meisies landwyd reeds jaarliks agt pakkies elk ontvang. Die pakkies bevat nie net sanitêre doekies nie, maar ook ander noodsaaklike higiëniese items wat meisies daagliks benodig.

HelpHetta is in 2015 begin om meisies die vernedering te spaar van dae wat tot stilstand kom omdat hul huishoudings nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Wanneer meisies nie toegang tot hierdie produkte het nie, mis hulle soms tussen 30 en 50 skooldae, asook sport en sosiale aktiwiteite. Deur hierdie projek word hul waardigheid beskerm en kry hulle die kans om voluit deel te neem aan akademiese en buitemuurse programme. Persoonlike higiëne word gesien as ’n platform vir die bemagtiging van meisies.

“Benewens die verspreiding van produkte, bied HelpHetta ook emosionele en geestelike ondersteuning. ’n WhatsApp-uitsendingsgroep verseker dat Helpende Hand se span maatskaplike werkers weekliks boodskappe deel wat die meisies toerus om uitdagings soos verwerping, groepsdruk, mishandeling en selfverdediging aan te spreek,” sê Roux.

Die publiek word uitgenooi om finansieel by te dra of produkte te skenk om die projek verder uit te bou. Besoek www.helphetta.co.za of stuur ’n e-pos aan danelle@helpendehand.co.za vir meer inligting.