#HelpJag-sangers maak kinderhartjies bly met musiek en vol magies

Ruhan du Toit en Deon van der Merwe.

Touch of Class en Solidariteit Helpende Hand het onlangs as deel van die #HelpJag-veldtog sowat 50 kinders by ’n kleuterskool in weste van Pretoria gaan bederf.

Die duo, Deon van der Merwe en Ruhan du Toit, het hul kitare saam met braaitange ingespan om die kleuters te bederf en te sorg hulle gaan met ’n vol magie, geverfde gesigte en ’n snoeppakkie huis toe.

“’n Mens kry sekere talente by die Here en dit is vir ons baie belangrik om dit te benut deur iets terug te ploeg in die gemeenskap. Daar is niks meer vervullend as om onskuldige kinderhartjies gelukkig te maak,” het Van der Merwe by die geleentheid gesê.

“Dit was uit ons harte uit ’n voorreg om dit vir die kinders te kon doen. Ons het lekker saam met hulle gesing. Hul nederigheid het op ons afgespoel en weer dryfkrag gegee om die lewe opnuut aan te pak,” het Du Toit gesê.

Touch of Class is deel van die verskeie kunstenaars en rolspelers wat #HelpJag, wat deel maak van Helpende Hand se #Stophonger-projek, ondersteun. Bakkies Botha en Adam Tas is die ambassadeurs van #HelpJag.

Nóg bekende sangers wat hul stemme gevoeg het tot #StopHonger is Tarryn Lamb, Monique Steyn, Corlea, Dewald Wasserfall, Jay, Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld en Riana Nel.

Margolé Riekert, projekorganiseerder by Helpende Hand, verduidelik #HelpJag is ’n voortdurende poging teen hongersnood onder behoeftige Afrikaanse kleuters.

“Elke aand is daar kleuters wat honger gaan slaap. Hulle ouers kan net eenvoudig nie bekostig om vir hulle kos te voorsien nie,” het Riekert gesê.

“’n Onlangse studie oor hongersnood onder Afrikaanse kleuters is deur Helpende Hand by 52 kleuterskole gedoen. Die studie het bevind dat 85% van behoeftige kleuters ná ʼn naweek honger by hul kleuterskole opdaag. Uit dié groep het 31% van die kleuters self bekendgemaak dat hulle nie saans eet nie. Kleuters verloor tot 8% van hulle liggaamsmassa as hulle nie op ’n voedingsprogram is nie.”

Riekert het gesê vleispryse het so gestyg dat daar nie altyd geld vir ’n gesonde bord kos is, waar vleis deel van die spyskaart is nie.

“As gevolg van die tekort aan ʼn goeie, goedkoop bron van proteïene het Helpende Hand die #HelpJag-veldtog van stapel gestuur. Die veldtog moedig jagters aan om wildsvleis vir Helpende Hand te skenk. Helpende Hand sal betaal vir die verwerking van die bokke wat jagters jag. Die vleis word in maalvleis omskep word en aan van ons behoeftige skole geskenk. Die aanwesigheid van ’n hoë-proteïen vleis, soos wildsvleis, verbeter die kleuter se kanse om gesond te ontwikkel en dra by tot verhoogde konsentrasie en prestasie op skool. Om al die kleuters van die nodig proteïene te voorsien, benodig ons ongeveer 104 000 kg van dié proteïenbron,” het Riekert gesê.

Volgens Riekert versprei #HelpJag en #StopHonger onder meer wildsvleis na 83 kleuterskole regoor die land en is die doel om 8 000 kleuters daagliks met ’n bord gesonde kos te voorsien.

Die publiek kan landswyd betrokke raak deur gejagte bokke te skenk of ʼn finansiële skenking te maak deur die webwerf www.helpjag.co.za te besoek.