Hoe om met jou kinders oor onsekere tye te praat

-Deur Yolandi Singleton: Maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand

As ouer wil ons, ons kinders teen seer beskerm. Ongelukkig moet ons onthou, om ons kinders regtig met hul geluk te help, moet ons hulle ook leer dat daar onsekere en ongemaklike tye gaan wees.

Hier volg ʼn paar wenke om met jou kind oor hierdie onderwerp te gesels:

  • Gesels met jou kind as almal rustig is – in ʼn gejaag, kan die boodskap verlore raak.
  • As jou kind vir jou van ʼn slegte gebeurtenis vertel, luister aandagtig, sê vir hom/haar dat jy jammer is dat dit met hom/haar gebeur het, en erken sy/haar gevoelens. Troos jou kind, gee ʼn stywe druk, vee trane af, en hou jou gesigsuitdrukking sag.
  • Ná ʼn dag of wat kan jy jou kind daarop wys dat daar slegte dinge met mens kan gebeur, maar dat daar ook baie goeie goed in die lewe gebeur.
  • Onthou, jy gaan ʼn paar keer hieroor met jou kind moet gesels, voordat hulle dit regtig verstaan, maar hou aan, dit sal op ʼn stadium vassteek.
  • Leer jou kind dat dinge nie altyd presies gaan gebeur soos hy/sy gedink/gehoop het nie – byvoorbeeld, eendag speel maatjies mooi met mekaar, en die volgende dag skinder hulle dalk van jou.
  • Wys jou kind daarop dat hy/sy nie altyd in ʼn gemaklike situasie gaan wees nie – soos om voor die hele klas te praat. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker kan dit raak. Aanhouer wen.
  • Leer jou kind dat planne of verwagtinge kan verander – byvoorbeeld, sê nou maar jou kind het die verwagting gehad om môre by sy maatjie te gaan kuier, en dan gebeur daar iets wat dit keer. Hy/sy mag teleurgesteld wees, maar dis nie die einde van die wêreld nie – hy/sy kan weer op ʼn ander keer gaan kuier.
  • Wys jou kind daarop dat daar nie altyd net een manier is om iets gedoen te kry nie; daar is kreatiewe oplossings vir elke uitdaging.
  • Leer jou kind dat mens soms misluk, maar dat hy/sy ook kan wen. Dit gaan nie oor hoe hard jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan.

Ons leer ons kinders dus van vroeg af van deursettingsvermoë. Só kan ons kinders goed vaar in die lewe, al voel hulle ook soms onseker.