Hoe ouers kinders se emosionele veiligheid kan versterk en gesinsverhoudings verbeter

Goeie kommunikasie tussen ouers en hul kinders is noodsaaklik vir goeie verhoudings – dit verseker dat kinders emosioneel veilig voel.

Jy kan jou boodskap op ‘n positiewe of negatiewe manier oordra tydens kommunikasie.

JY-boodskappe is gewoonlik negatief. Kinders beleef dit as beskuldigend en onregverdig en dit laat hulle magteloos voel. Dit lei selfs tot skuldgevoelens, woede-uitbarstings en aggressiewe gedrag wat verhoudings groot skade kan aandoen.

Hier is ‘n voorbeeld van ‘n JY-boodskap:

Mamma: Jy is permanent op jou foon en doen niks nie. Kyk hoe lyk jou kamer, soos ‘n varkhok. Jou skoolwerk is ook seker agter en jy druip weer.

Kind: Ag nee ma, jy oordryf! Jy klink soos ouma, skel net altyd! Ek wil nie meer hier bly nie!

EK-boodskappe is gewoonlik positief. Die ouers fokus op die kind se hinderlike gedrag en beskryf die moontlike gevolge en hoe dit hulle laat voel. Niemand word beskuldig nie en dit voorkom ‘n magstryd tussen ouer en kind. Hierdie soort kommunikasie bevorder ook eerlikheid en openlikheid tussen ouers en kinders.

Hier is ‘n voorbeeld van ‘n EK-boodskap:

Mamma: Ek voel gefrustreerd wanneer ek jou die hele tyd op jou foon sien. Dit sal help as ons daaroor kan gesels om ander goed ook te prioritiseer, soos jou skoolwerk en jou kamer. Kan ons asseblief daaroor gesels?

Kind: Dit is reg, ek tik net die boodskap klaar, dan kan ons gesels oor wat ma wil gedoen hê en dan sal ek dit doen.

Dit sal definitief ‘n positiewe impak op die ouer-kind-verhouding hê as ouers meer op die positiewe fokus en beleefd met hul kinders kommunikeer. Gesinsverhoudings sal ook verbeter as die gesin kwaliteittyd saam spandeer deur byvoorbeeld saam as gesin by die tafel te eet, saam Godsdiens te beoefen, te gesels oor hul daaglikse aktiwiteite en deur speletjiesaande saam te geniet.

Uit: Boustene vir goeie ouerskap deur Anita Sinosich

Mariette Hartley

Maatskaplike werker:  Wesrand en Vaaldriehoek streek

Tel: 084 810 4333

E-pos: [email protected]