Hoe ploeg jy geestelik dieper?  Deur op te kyk, natuurlik.

Gert Erasmus

(Programontwikkeling: Geestelik, Helpende Hand)

Psalm 139 is een van die mooiste Psalms in die Ou Testament, en omdat ons tema: “Ons Ploeg” is, staan ons hierdie maand by die eerste paar verse van hierdie pragtige Psalm stil.

Die groot vraag

Ons elkeen kry soms in ons lewe, tot ’n mindere, of meerdere mate, met beproewings te doen. Die groot vraag waarmee ons almal worstel is: “Waarom Here?” Gevolg deur vrae soos: “Waarom het U hierdie spesifieke situasie, of spesifieke scenario in mý lewe toegelaat? Waarom het dié dinge in my lewe so uitgespeel, en waarom juis op die manier?” Die is aktuele vrae waarmee ons nie net in ons persoonlike lewe nie, maar óók in ons gemeenskappe mee worstel. Hoe hanteer ons die vrae?

Spreekwoordelike spieël

Dawid kyk, in die Psalm se eerste ses verse, in ’n spreekwoordelike spieël. Hy sien sy eie kleinheid raak wanneer Hy sien wie die Here is. Hy staan eintlik verstom en verbaas oor hóé goed die Here hom werklik ken – al van vóór sy geboorte tot ná sy afsterwe – sy hele lewe lank (Psalm  139:13-18).

Dieper kyk   

Ons aardse oë kan nie sien wat God sien nie. Deesdae gebruik ons in die mediese wêreld X-strale, of ander gevorderde tegnologie, om onder die vel te kan sien. Destyds was dit nie die geval nie. Dawid bely, met sy een oog op die spreekwoordelike spieël (Woord), en sy ander oog op homself, die enorme grootheid van God die skepper. ’n Mens bly verstom dat God ons so goed ken: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat dit by my opkom (vers 1-2). Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.” (vers 4: 1983-Vertaling).  

Groot besef

Dít is hoe goed God ons ken, en dit laat ons bitter klein voel. Die vraag is nie nóú meer: “Waarom Here?” nie, maar éérder “Waarheen Here, is U met my op pad, en wat wil U hê moet ek raaksien? Hierdie geloofsvrae is deel van ons geestelike inploeg in onsself. Geloofsvrae wat ons by ’n positiewe bedoeling uitbring, i.p.v. om in ’n afwaartse spiraal van negatiwiteit te verval. Negatiwiteit veroorsaak dat ’n mens nie insig het na waarheen jy op pad is nie. Negatiwiteit veroorsaak dat ’n mens éénsydig na die spreekwoordelike spieël kyk. Negatiwiteit bring ’n mens by verkeerde eindbestemmings uit.

Wat moet ons besef?

Dawid, gelei deur die Gees, gebruik ’n pragtige beeld om die hand van die Here in ons lewe in vers vyf te verduidelik. Hy sê: “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.” (1983-vertaling). Die beeld waarna ons hier moet kyk (spreekwoordelike spieël) is dié van ’n beleërde stad in die antieke wêreld. Bedoelende, dit word van alle kante af, deur die Here, omring en ingesluit. Die vers druk ’n positiewe gedagte uit, juis om vir ons te wys hóé veilig ons is, en hoe ons deur sy Hande omvou word, sodat ons (aardse) beweging ook in sy Hande beweeg. Daarop voeg Dawid in vers ses by, dat hy sy eie kleinheid voor die grootheid van God bely: “Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.”

Waarheen

Hierdie wete is gerusstellend. Die wete om na hierdie spreekwoordelike spieël te kyk bring kalmte. Die Heilige Gees het Dawid van sy aardse denke losgemaak, en hom laat opkyk na God wat sin en betekenis aan sy, en ons, lewe gee (Prediker 3:11). Die dieper inploeg moet nooit wees om in die “waarom”-vrae te verval wat ons in ’n afwaartse spiraal van negatiwiteit laat beland nie. Die dieper inploeg in die Woord moet ons by die antwoord van “waarheen” uitbring. Al hoe dít kan gebeur is as daar vanuit jou aardse omstandighede in die geloof opgekyk word (Kol 3:1-2). ’n Negatiewe mens maak almal rondom hom of haar negatief. Negatiwiteit is aansteeklik, en ons moet  in ons gemeenskappe daarteen waak.

Vra éérder in jou gemeenskapsontwikkeling vir God: “Wáárheen is U met ons op pad?”, en maak op so ’n manier ’n verskil. ’n Klein geloofstreetjie in die regte rigting bring groot verandering.

Wees jy dié een wat eerder opkyk en die geloofsvraag vra: “Waarheen Here?”