Hoekom het hulle van my vergeet? (Vanuit SAVF-NUUSBRIEF)

Deur Anneliese Bothma 

Dit was die vraag wat ons inwoners in die tyd van Covid-19 hoofsaaklik gepla het. Ons tehuis was vir drie weke in kwarantyn nadat ons ʼn Covid-19-uitbreking gehad het. Die inwoners kon nie hul families sien of met hulle praat of aanraak nie.

Die virus het hierdie inwoners verwar en hulle kon dit nie verstaan nie. Skielik moes hulle in hul kamers bly en mense wat wit oorpakke en maskers dra, het met hulle gewerk. Hulle kon hulle nie so agter die maskers hoor nie.

Toe kom die nuus dat Covid-19 hier by ons is. Van ons vriende moes hul kamers verlaat om agter ʼn rooi gordyn te gaan bly. Ons as bestuur het die vrees in hul oë gesien. Die vrees om dood te gaan, het oorweldigend geraak. Van die inwoners het angsaanvalle gekry. Een inwoner het van almal afskeid geneem want sy sou doodgaan. Dit het ons harte gebreek dat ons nie vir hulle ʼn drukkie kon gee en kon sê dat alles oukei gaan wees nie, want ook ons was bang vir die onbekende. Hul families kon slegs oproepe of video-oproepe via Whatsapp maak, maar baie van die inwoners kon nie die gesprekke behoorlik volg nie en verstaan nie hoe Whatsapp-oproepe werk nie. Die inwoners en hul kinders het gehuil wanneer hulle met mekaar gepraat het.

Die maatskaplike werker het haar bes probeer om hoop te bring en om vir die inwoners te wys dat ons omgee.

Die hartseerste dag was toe een van ons Alzheimer-pasiënte op haar sterfbed was. Haar drie kinders het ʼn Whatsapp-oproep in die teenwoordigheid van die bestuurder, die hulpverpleegster en die maatskaplike werker gemaak. Hulle het vir haar gesê dat hulle haar liefhet. Ons het almal begin huil toe sy hulle herken en begin huil het. Sy het in ons arms gesterf.

Die bestuur en personeel het so uitgeput geraak. Aan die een kant moes ʼn mens na die fasiliteit omsien en aan die ander kant was daar die vrees vir die virus en hoe dit ons families kon raak.

Ons het ook sekere positiewe dinge uit die tyd geleer. Ons as inwoners het nader aan mekaar gegroei want ons moes op mekaar reken. Ons het die personeel begin sien as mense wat ook gely het.

Ons as bestuur het ʼn uitstekende span geword wat mekaar respekteer. Ons het ʼn wonderlike, sorgsame dokter in dr. Erasmus gehad wat ons gelei het. Die wonderlike nuus is dat die 20 inwoners wat in die tehuis versorg is, almal Covid-19 oorleef het.

HULLE HET NIE VAN MY VERGEET NIE – DIT WAS NET ’N KORT RUKKIE WAT GOD ANDER MENSE OP ONS PAD GEBRUIK HET OM VIR ONS TE SORG.