Skip to content

Hof ignoreer Helpende Hand se pleidooi en 94 gestremde pasiënte sterf

Hof ignoreer Helpende Hand se vertoë oor Cullinan Care and Rehabilitation Centre wat lei tot tragiese gebeure by NRO’s

Solidariteit Helpende Hand is van mening dat die dood van 94 gestremde pasiënte die gevolge is van ’n korrupte vervolgingstelsel. Die organisasie het reeds in Julie 2016 na die beweerde dood van twee pasiënte ‘n dringende aansoek aan die hof gebring wat van die hand gewys is. Verdere versoeke is ook deur Helpende Hand gerig, maar regter Mabuse het die saak aanhoudend uitgestel.

Helpende Hand was vir maande lank met die Gauteng se departement van gesondheid in ’n hofgeding oor die versorging van gestremde pasiënte by die Cullinan Care and Rehabilitation Centre. Pasiënte in die sentrum was vantevore onder die sorg van Siyabadinga, ’n nieregerings-organisasie naby Cullinan.

Volgens Diane Moyile, die bestuurder van Siyabadinga, het die departement nie die ooreenkoms nagekom nie. Ten spyte van vele beloftes was Siyabadinga alleenlik verantwoordelik vir die pasiënte se versorging en ook medikasie, maar het nie enige subsidies van die staat af ontvang nie, behalwe vir die SASSA-toelae van 16 van die pasiënte. Die nodige papierwerk is ook nie deur die departement afgehandel nie en pasiënte is gevolglik sonder mediese agtergrond oorgeplaas in die organisasie se sorg. Na Helpende Hand se ondersoek het dit ook geblyk dat die departement ook nie die regmatige prosedures gevolg het om Siyabadinga aan te stel nie, ten spyte van die feit dat toelae aan hulle oorbetaal is.

Volgens Prof. Malegapuru Makgoba, gesondheidsombudsman, is minstens 94 pasiënte dood nadat die Gautengse departement van gesondheid hulle na nieregerings-organisasies oorgeplaas het.

Helpende Hand se regsverteenwoordigers het reeds op 9 Julie 2016, namens hul kliënt, die Siyabadinga Nie-Regeringsorganisasie, ’n dringende aansoek voor die Noord-Gautengse Hooggeregshof gebring. Aansoek is gedoen vir die aanstel van ’n kurator om beweerde growwe nalatigheid en mishandeling van pasiënte deur werkers van die Departement van Gesondheid te ondersoek. Alhoewel die aansoek op ’n dringende basis voor die hof gebring is, het daar ’n tydperk van drie weke verloop waartydens die saak nie minder nie as drie keer van regter na regter oorgeplaas is.

Volgens Ernst Vorster, hoof van kommunikasie vir Helpende Hand, het die organisasie se Mpumalanga streek meer as R70,000 in skenkings wat komberse, kleding, mediese apparate soos rolstoele en krikke, wasmasjiene, sowel as groot mates van voedsel geskenk wat later deur die staat gekaap is. “Ons weet steeds nie wat met hierdie skenkings gemaak is nadat Siyabadinga die Cullinan perseel verbied is nie.”, het Vorster gesê.

Volgens Vorster, is hy saam met dr Danie Brink, uitvoerende direkteur, en die Mpumalanga streek se streeksorganiseerder, Alisha de Lange, asook lede van een van die streek se takke, vir ongeveer 60 minute aangehou op die perseel op 1 Julie 2016 omrede die sekuriteit opdrag ontvang het om Helpende Hand se kameras te konfiskeer om bewyse wat ingesamel was oor die onaanvaarbare omstandighede te vernietig en te keer dat dit uitkom.