Holistiese welstand binne Solidariteit Helpende Hand: Vier pilare wat ons sterker maak

Holistiese welstand binne Solidariteit Helpende Hand: Vier pilare wat ons sterker maak

Ware welstand behels meer as net om gesond te wees of finansieel onafhanklik te wees. Dit gaan oor die mens as geheel – en oor gemeenskappe waarin mense kan tuis voel, groei en floreer.

Welstand kan vergelyk word met 'n motor wat op vier wiele ry. Die vier wiele verteenwoordig fisiese, sosio-emosionele, geestelike en finansiële welstand. Om stabiel en doelgerig vorentoe te beweeg, moet al vier wiele goed funksioneer en in balans wees. As een wiel pap is, beïnvloed dit die hele rit. Net so kan die afskeep van een aspek van welstand 'n invloed op die res van ons lewe hê.

 

Vier pilare van welstand

Fisiese welstand – versorg jou liggaam

Fisiese welstand sluit gesonde eetgewoontes, gereelde beweging/oefening, voldoende rus en goeie stresbestuur in. Dit help die liggaam om optimaal te funksioneer en dra by tot 'n beter lewenskwaliteit.

By Solidariteit Helpende Hand word fisiese welstand onder meer bevorder deur gemeenskapsprojekte en inisiatiewe soos die Ons Plekke waar kinders nie net voedsame maaltye ontvang nie, maar ook in 'n veilige omgewing aan aktiwiteite kan deelneem wat hul ontwikkeling en welstand ondersteun.

Sosio-emosionele welstand – verbind met ander

Ons is nie gemaak om alleen te leef nie. Sosio-emosionele welstand behels die vermoë om gesonde verhoudings te bou, emosies te verstaan en bestuur, empaties te kommunikeer en konflik konstruktief te hanteer.

Sterk verhoudings en gemeenskappe skep 'n gevoel van tuis hoort en veiligheid. Solidariteit Helpende Hand dra hiertoe by met maatskaplikgebaseerde programme en ondersteuning, waaronder die Ons Sentrum waar kinders wat trauma ervaar het ondersteuning ontvang en vaardighede ontwikkel wat emosionele volwassenheid bevorder.

Geestelike welstand – leef met 'n doel en hoop

Geestelike welstand gee betekenis aan ons lewens en help ons om doelgerig, hoopvol en met waardes te leef. Dit kan bydra tot innerlike vrede, emosionele veerkragtigheid en sterker verhoudings.

Omdat Solidariteit Helpende Hand 'n Christelike organisasie is, staan geloof en waardes sentraal in ons wese. Roeping, getrouheid, naasteliefde, omgee, hoop en nederigheid is waardes wat nie net verkondig word nie, maar in die organisasie se projekte, dienste en gemeenskapswerk uitgeleef word. Deur samewerking met kerklike strukture word netwerke van ondersteuning, leiding en hoop verder versterk.

Finansiële welstand – bou aan selfstandigheid

Finansiële welstand vereis dat ons ons inkomste, uitgawes en skuld verantwoordelik moet bestuur om in ons basiese behoeftes te kan voorsien en vir die toekoms voorsiening te maak. Finansiële stabiliteit verminder stres en het 'n positiewe invloed op gesinne en gemeenskappe.

Onderwys en vaardigheidsontwikkeling is belangrike boustene van finansiële selfstandigheid. Deur die Studietrust help Solidariteit Helpende Hand studente om toegang tot opleiding en beter ekonomiese geleenthede te verkry. Die Ons Winkel-gemeenskapskonsessie, gemeenskapstudiefondse en die SHH Opleidingsinstituut se praktiese vaardigheidsopleiding dra verder by tot bemagtiging en volhoubaarheid.

'n Gebalanseerde rit vorentoe

Holistiese welstand vra dat ons nie net na een aspek van 'n mens of gemeenskap kyk nie, maar na die geheel.

Solidariteit Helpende Hand se benadering tot gemeenskapsontwikkeling is daarom daarop gerig om hierdie vier pilare binne gemeenskappe te versterk. Deur 'n gestruktureerde, waardegedrewe en volhoubare benadering help Solidariteit Helpende Hand om die fondament van gemeenskappe te versterk.

Holistiese welstand beteken nie net om te oorleef nie – dit beteken om die geleentheid te kry om te groei, te floreer en met hoop die toekoms tegemoet te gaan.

Picture2