Honger vir Hoop-veldtog bring duisende borde kos én hoop
30 Mei 2025
SOLIDARITEIT HELPENDE HAND MEDIAVERKLARING
Op Wêreldhongerdag het Solidariteit Helpende Hand en Pretoria FM nie net bewusmaking geskep oor die verskillende vorme van hongersnood in Suid-Afrika nie; hulle het ook daadwerklik gehelp om die nood te verlig.
Met die tema “Honger vir Hoop” is daar Woensdag landswyd ‘n beroep op die publiek gedoen om by dié reuseveldtog aan te sluit wat ten doel het om duisende borde kos op behoeftige kinders se tafel te sit. Dié dag het ‘n kragtige samevloeiing van gemeenskapsgees, korporatiewe betrokkenheid en persoonlike opoffering geword met duisende mense wat ingespring het om ‘n verskil te maak.
Daar is nie net op fisiese honger gefokus nie. Temas soos geestelike, maatskaplike en opvoedkundige honger is ook onder die loep geneem. Pretoria FM het regstreeks uitgesaai vanaf sy kantoor by Loftus Park waar ‘n lewendige program met bekende gaste aangebied is. Die program het onder andere gesprekke ingesluit oor die nood aan moedertaalonderrig, die belang van gemeenskapsbetrokkenheid, finansiële armoede, en kinders se behoefte aan beskerming.
“Op Wêreldhongerdag alleen het ons naastenby 15 000 borde kos ingesamel en skenkings kom steeds in soos die woord versprei,” sê Gerhard Pretorius, hoof van bemarking by Solidariteit Helpende Hand.
“Ons het bydraes van reg oor die wêreld ontvang. Dit strek van individue wat van R20 tot R10 000 geskenk het tot ondernemings wat R70 000 geskenk het. Dinamika Finansiële Dienste het op een slag R150 000 ingesamel. Vir ons is die geld vir elke bord kos wat geskenk is, ‘n hoogtepunt. Studente van Helpende Hand se Opleidingsinstituut het ook ingespring om te help en nagenoeg R3 000 met ‘n muntlegging ingesamel.”
Pretorius beklemtoon dat “Honger vir Hoop” nie ‘n eenmalige poging is nie, maar deel vorm van ‘n groter veldtog wat tot 7 Junie voortduur wanneer Wêreldvoedselsekerheidsdag in die kollig is. “As ons nie voedselsekerheid het nie, kan ons nie die res van ons projekte volhoubaar aanpak nie,” voeg hy by.
Margole Riekert, hoof van projekte by Helpende Hand, sê buiten die “Honger vir Hoop”-veldtog voed Helpende Hand daagliks meer as 8 000 kleuters in Afrikaanse gemeenskappe landswyd, maar die behoefte neem toe.
“Ons hanteer fisiese honger met byvoorbeeld die Kosblikkie-projek wat reeds sedert 2009 fondse insamel om kleuterskole te help om gesonde kos aan te koop. Dit was egter gou duidelik dat finansiële hulp alleen nie genoeg is nie,” sê Riekert.
“Daarom het ons in 2018 met HelpJag begin. Dit is ‘n praktiese projek waar jagters vleis aan ons skenk. Ons verwerk dit en versprei dit aan skole asook tehuise vir bejaardes en mense met gestremdhede,” sê sy.
Volgens Riekert speel die organisasie se nasionale struktuur ‘n sleutelrol in die sukses van sulke inisiatiewe. “Of jy nou jou tyd, vaardighede of geld gee, ons maak dit maklik vir die gemeenskap om betrokke te raak. Dit gaan nie net oor geldelike skenkings nie; dit gaan oor betrokkenheid en gemeenskapsbetrokkenheid.”
Die Springbok-legende en passievolle jagter Bakkies Botha is ‘n ambassadeur van HelpJag. Hy sê die projek lê baie na aan sy hart. “HelpJag is vir my ‘n manier om terug te gee. Jaarliks ontvang ons tonne vleis van boere en jagters, en elke kilogram maak ‘n verskil. Kinders wat weet hulle gaan by die skool kos kry, gaan skool toe waar hulle leer en aan sport deelneem en so kry hulle hoop. Om hoop te bring waar daar nie is nie, is waaroor die samelewing gaan.”
Die Honger vir Hoop-veldtog duur voort tot 7 Junie. Dié wat nog wil help, kan vir so min as R20 ‘n bord kos skenk by www.helpendehand.co.za.