Hou bedelaars van die straathoeke af met dié koepon

Solidariteit Helpende Hand is besig om Pretoria en Centurion se bedelaars van die straat af te kry. Met die jaarlikse #geeREG -veldtog wil ons publiek aanmoedig om dié organisasie, in samewerking met Moeggesukkel Rehabilitasiesentrum, se koeponprojek te ondersteun.

In 2016 is die #geeREG-koepon op die been gebring met die oogmerk om die aantal bedelaars op Centurion se strate te verminder. Dit het gevolg nadat Helpende Hand se 2015 studie getoon het dat tot 90% van bedelaars aan dwelms verslaaf is.

Die doel van die koeponstelsel is om ʼn alternatief vir lede van die publiek wat gereeld ʼn geldjie by verkeersligte vir die bedelaars gee, te bied. In plaas van die kontant kan daar ʼn koepon vir die bedelaar gegee word, wat hy of sy vir ʼn bord kos by een van die sewe kospunte kan inruil.

Sedertdien is daar 8 468 kospakkies aan bedelaars uitgedeel en ʼn indrukwekkende 161 bedelaars is van die straat afgehaal en het deel geword van die Moeggesukkel Rehabilitasiesentrum.

Volgens René du Preez is hierdie projek veel meer as net ʼn sopkombuis. “Die geeREG-koeponstelsel word bedryf deur gerehabiliteerde dwelmverslaafdes,” het Du Preez gesê. “Hulle weet hoe dit is om op straat te leef en hulle is ʼn lewende getuienis dat daar ʼn alternatief vir hierdie bedelaars moontlik is. Die bedelaars kry ook meer as net ʼn bord kos, hulle word daadwerklik bearbei om hulle sodoende van die straat af te kry. Wanneer hulle dan instem, word hulle deel van die Moeggesukkel Rehabilitasiesentrum en het hulle ʼn tweede kans om ʼn sukses van hulle lewens te maak.”

ʼn Groot deel van die Moeggesukkel rehabilitasieproses is opleiding, om die mense op te lei in vaardighede waarin hulle ʼn werk sal kry. Van die rigtings waarin opleiding gebied word is motorwerktuigkunde, paneelkloppery, spyseniering en meubelvervoer. “Die projek het tot dusver uitstekende resultate opgelewer,” het Jacques Papenfus, van Moeggesukkel gesê. “Ongelukkig is die insette van die #geeREG-projek baie meer as wat ons gedink het. Daar is werklik baie mense op straat wat baie swaarkry.”

Papenfus, wat self op straat gebly het terwyl hy gesukkel het met verslawing, glo egter dat dit die moeite werd is om in die bedelaars op straat te belê. Volgens hom moet daar egter op die regte manier gegee word.

“Mense besef nie die skade wat hulle doen deur vir jou ʼn geldjie in die hand te stop nie. Daardie geld onderhou jou verslawing en lei tot baie groter euwels as wat mense dink.”

Dit is ook nie net tot voordeel van die bedelaars dat hulle gerehabiliteer word nie, maar ook vir die Pretoria/Centurion gemeenskap. ʼn Onlangse studie deur Helpende Hand het die gevare en realiteite van dwelmverslawing ondersoek. Hieruit het dit duidelik geword dat daar ʼn sterk verband tussen dwelmverslawing en misdaad is. Tot soveel as 42% van dwelmverslaafdes neem deel aan onwettige praktyke om dwelms te kan bekostig. Volgens die studie het slegs 17% van die verslaafdes ʼn inkomste gehad wat nie met misdaad of bedel te doen gehad het nie.

Helpende Hand #geeREG, en gee hoop. Ondersteun jou gemeenskap deur bedelaars op die regte manier te help – #geeREG. Bekom jou koepon by www.geeREG.co.za