HOUERS VOL HOOP

VIR SOLIDARITEIT SE DENEL- EN COMAIRLEDE

Skenk ’n Houer Vol Hoop

Solidariteit Helpende Hand ondersteun Solidariteit se Denel- en Comairlede wat tans deur ’n moeilike tyd gaan. Help óns om hulle te help.

Hoe kan jy help?

Koop ’n Houer Vol Hoop teen R750, of ’n kleiner Houer Vol Hoop teen R450, en help ’n medelid in nood.

E-kaart 2

Hoekom help jy?

Die Solidariteit Beweging het tydens sy Helpmekaardag sy amptelike Krisisfonds gestig om die maatskaplike nood, wat reeds weens die Covid-19-krisis ontstaan het, aan te pak. Die Krisisfonds word ook aangewend om na die welstand van Solidariteit se lede om te sien, en word deur Solidariteit Helpende Hand bestuur.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, word ’n ekonomiese krisis gewoonlik deur ’n maatskaplike krisis gevolg.

“Die gemeenskap moet daarom seker maak dat alles in plek is om mekaar, in tye van nood, by te staan. Ons verwag dat die nood en die behoefte al hoe groter gaan word. Die Solidariteit Beweging se Krisisfonds word deur Solidariteit Helpende Hand se onafhanklike ouditeure geoudit, en ’n spesiale oorsigkomitee sal sorg dat die geld reg aangewend word,” sê Noëth.

Ons lewe in ’n abnormale tyd waar ons lede, deur geen fout van hulle eie, hulp nodig het. Dit is mense wat werk, maar die betrokke maatskappye betaal nie hulle salarisse nie, of die mense kán bloot nie meer werk nie as gevolg van die likwidasie van die maatskappy waarby hulle werksaam is.

Medelede werksaam by Denel is reeds ’n geruime tyd weens wanbestuur deur hul werkgewers en/of staatskaping in ’n finansiële krisis, terwyl Comairlede, as gevolg van ’n likwidasieproses, sonder enige heenkome gelaat is. Hierdie lede ontvang glad nie, of slegs gedeeltelike salarisse. Solidariteit en Helpende Hand ondersteun sedert 2020 reeds hierdie lede. Die koste van die kospakkies is enorm en is daarom nie vir Solidariteit Helpende Hand finansieel volhoubaar nie. Om dié rede vra ons nou vir medelede om in te gryp en ’n buurman, of buurvrou in hierdie moeilike tyd te help, en vir ’n gesin weer hoop te gee.

Helpende Hand het besef dat baie lede in die gemeenskappe bereid is om te help, maar ongelukkig nie tyd het om na ’n supermark te gaan en daarvandaan na ’n afleweringspunt toe te ry nie. Daarom het ons dit goedgedink om virtuele kospakkies as ’n opsie beskikbaar te stel. Helpende Hand wil op die manier die gemeenskap mobiliseer om mekaar te ondersteun.

“Helpende Hand wil graag onder gesinne ’n verskil maak, daarom het ons die Houers Vol Hoop-inisiatief begin. Houer, vir houer moet daar ’n verskil gemaak word in gesinne se lewens in ons gemeenskappe wat tans swaar kry. Ons gebruik spesifiek die woord “houer”, want dit is iets waaraan jy fisies kan vat en die inhoud daarvan kan gebruik. Ons gebruik spesifiek die woord “vol”, want dit is nie net ’n houer nie, die houer is vol benodighede soos kos wat “hoop” gee, ” voeg Noëth by.

“Helpende Hand glo in beginsel daaraan om reg te gee. Ons kyk mooi wat die betrokke gesin nodig het en bereken dit presies om te sien wat hulle in ’n moeilike tyd kan deurtrek. Houers Vol Hoop is ook bedoel om ’n brug en reddingsboei te wees vir die situasie waarin die mense hulle tans bevind. Mense is soms onseker, en ons word dikwels gevra: ‘Wat moet ek gee?’ Houers Vol Hoop is iets wat gegee kan word en die inhoud is iets wat benodig word. Ondersteuners kan een of meer aankoop en rég gee. Hulle kan die nood takel en sodoende ook hoop skep,” sluit Noëth af.

Hierdie behoefte van lede is egter nie net tot een maand beperk nie, aangesien dit maande kan duur voordat ’n lid weer werk kry, of voordat die situasie by die betrokke maatskappy verbeter.

Elke Houer Vol Hoop bevat die volgende:

  • ’n 12,5 kg-sak mieliemeel
  • ’n 2 kg-sak rys
  • twee 500 g-pakkies macaroni
  • ’n 500 g-pakkie tee
  • ’n 500 g-boksie Cremora-poeier
  • ’n pakkie soja-maalvleis (bees)
  • ’n pakkie soja-maalvleis (hoender)
  • twee blikke uie-en-tamatiemengsel
  • ’n blikkie “boeliebeef”
  • ’n blik bone
  • twee pakkies soppoeier
  • ’n 750 ml-bottel kookolie
  • ’n 500 g-sakkie sout
  • ’n 900 g-blikkie konfyt
  • ’n buisie tandepasta
  • nege rolle toiletpapier
  • ’n bottel skottelgoedseep

Ander metodes van betaling sluit in:

Bankbesonderhede

Rekeninghouer: Solidariteit Helpende Hand

Bank: FNB

Rekeningnommer: 62331445503

Takkode: 261 550 (Centurion)

Verwysing: HouersVolHoop

Stuur asseblief die bewys van betaling aan [email protected]

SNAPSCAN

Snapscan

PayPal (Internasionaal)

of stuur ’n SMS met die woord Hoop na 45763 (SMS’e kos R2).