Impak van werkverlies op gemeenskappe ’n donker werklikheid met ’n straaltjie hoop

Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand: Phillip Bruwer

Die onlangse statistiek van Statistieke Suid-Afrika oor werksverliese in die formele, nie-landbou sektor bring kommerwekkende nuus.

In die tydperk van Maart 2024 tot Maart 2025 het Suid-Afrika 95 000 werksgeleenthede verloor. Hierdie verliese dui nie net op ’n brose arbeidsmark nie, maar wys op ’n toenemende maatskaplike kwesbaarheid in gemeenskappe regoor die land.

Die handel-sektor, wat tradisioneel as een van die grootste werkgewers dien, is die hardste getref met ’n verlies van 52 000 poste. Die gemeenskapsdiens-bedryf, wat dikwels as laaste toevlug vir ongeskoolde of semi-geskoolde werkers dien, het 17 000 werksgeleenthede verloor. Hierdie syfers dui nie net op ’n brose arbeidsmark nie, maar wys op ’n dieper, sosiale krisis, soos kinders wat honger gaan slaap. Ma’s wat enkellopend is verloor ook hul enigste bron van inkomste. Jongmense gee hul droom van ’n beter toekoms op en gesinne verloor hul waardigheid.

“Wanneer duisende mense hul inkomste verloor, word die impak nie net ekonomies gemeet nie, dit word gemeet in die honger van ’n kind, die afwesigheid van mediese sorg, en die verlies aan hoop in die oë van ’n ouer wat nie weet wat môre gaan bring nie,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Die situasie word vererger deur die 55 000 voltydse en 19 000 deeltydse poste wat in dieselfde periode verdwyn het. Die feit dat selfs deeltydse werk – dikwels ’n kritieke oorlewingstrategie vir baie gesinne – begin opdroog, beklemtoon hoe ernstig die werkkrisis is. Jongmense, vroue en werkers met laer vaardighede sal waarskynlik die swaarste las dra.

Maar tussen donkerte is daar tog lig. Die konstruksiebedryf het 5 000 nuwe voltydse poste geskep wat dui daarop dat sekere sektore weer begin groei. Dit wys op die moontlikheid van herstel deur vaardigheidsontwikkeling, projekte wat werklik werk skep, en strategiese belegging in mense.

“Die data is ontstellend, maar dit is nie die volle storie nie,” voeg Noëth by. “Ons het as land al voor groter krisisse gestaan, en telkens het gemeenskappe, besighede en burgerlike organisasies opgestaan en saam begin bou. Dit is nou weer daardie tyd.”

Daarom bied Solidariteit Helpende Hand op 18 Julie 2025 die Toekomsberaad in Centurion aan wat ’n platform bied waar kundiges, besluitnemers, gemeenskapsleiers en weldoeners saamwerk om oplossings te vind. Die fokus? Praktiese maniere om armoede hok te slaan, werk te skep, en waardigheid te herstel.

Armoede is nie ’n noodlot nie. Dit is ’n onreg wat ons deur hoop, samewerking en doelgerigte optrede kan regstel. Die toekoms van Suid-Afrika sal nie in statistiek geskryf word nie, maar in die stories van mense wat weer danksy Helpende Hand kan droom.