Skip to content

Is my menstruasie normaal?

Baie meisies wonder of hulle menstruasie normaal is, maar weet nie altyd wie om te vra nie. Keer op keer hoor ons by meisies dat hulle net eenvoudig te ongemaklik is om oor hulle menstruasiesiklus te gesels.

Navorsing wat onlangs deur Solidariteit Helpende Hand se #HelpHetta projek gedoen is, toon dat 48% van meisies die onderwerp met hulle ma bespreek, maar 11% kan glad nie met hulle ouers daaroor gesels nie. Hierdie normale proses maak 7% van meisies selfbewus, 5% van meisies maak dit selfs bang en vir 3% van meisies is dit baie seer.  Vir 63% van die meisies is dit glad nie ’n aangename ervaring nie en 17% van meisies haat daardie tyd van die maand.

Hierdie reaksies van die meisies kan toegeskryf word aan hulle eie onkunde oor die proses omdat hulle nooit die vrymoedigheid gehad het om met iemand of selfs ‘n organisasie te praat nie. Daarom poog #HelpHetta om vir meisies gesels-geleenthede te skep wat hul nie andersins sou gehad het nie. Dit vind plaas deur praatjies wat gereeld by skole aangebied word oor onderwerpe soos selfbeeld en alles wat met die groeipyne van tienermeisie-wees gepaard gaan.

Só ’n praatjie is onlangs by Hoërskool N Diedericks in Krugersdorp aangebied deur die fantastiese motiveringspreker, Lynette Beer. Lynette het die meisies ’n paar wenke gegee oor hoe om ’n super selfbeeld te ontwikkel.

Sy het beklemtoon dat mens nooit die produk van jou omstandighede hoef te wees nie. Mense mag verskil en as jy jouself ken, kan jy die beste maak van wie God jou gemaak het. Sy het verder gesels oor mislukkings en dat mens nie bang moet wees daarvoor nie. “As iets nie uitwerk nie, probeer jy dit weer, hierdie keer net op ’n ander manier”.

Helpende Hand het ook deur onlangse navorsing getoon 87% van meisies sanitêre doekies verkies en slegs 13% gebruik tampons. Die meerderheid van meisies begin menstrueer wanneer hulle 12 jaar oud is en tot soveel as 8% van meisies begin reeds voor hulle 10 jaar oud is.

#HelpHetta poog om hierdie normale proses vir meisies draaglik te maak deur sanitêre doekies te versprei na meisies wat dit nie kan bekostig nie. Vir meer inligting oor die projek, stuur gerus ’n epos na [email protected]