Die werksaamhede van Solidariteit Helpende Hand in 2019 kan opgesom word in een klein ou woordjie: Dankie!

Dankie aan ondersteuners wat glo in wat ons doen, die uitdagings verstaan, ten spyte van opdraandes ons steeds bystaan en hulp aanbied voordat ons vra. Sonder ondersteuners wat deel is van ons Helpende Hand-familie, sou alles soveel moeiliker wees om ten uitvoer te kon bring. Nee, dit sou absoluut onmoontlik gewees het!

Dankie aan personeel wat opoffer en verstaan en Met Hart “alles gee” wat hulle het en kan, omdat Helpende Hand veel meer as ’n werkplek is – dit het ’n leefwyse geword. Vir elkeen wat by Helpende Hand werk, is die hart in die werk, deel van hard aan die werk wees. Ek kan voorwaar sê Helpende Hand se grootste bate is sterk personeel wat geroepe en gedrewe is en nie wonder oor hoekom en wat hulle moet doen nie, maar weet waarom hulle dit doen.

Dankie aan die groter Solidariteit Beweging in wie ons kan rus, kan krag vind, kan sterk word en kan weet dat ons deel is van ’n groter familie as net ons in ons kantore. Dit help om krag te put uit die ander instellings wat deel is van ons Beweging, want daarin vind ons hoop en kalmte en werk ons saam vorentoe.

Dankie aan vrywilligers in takke en streke regoor die land wat nie moeg word om goed te doen nie en arms lam werk nie, tyd tot die uiterste rek, in moegheid projekte deurvoer en ’n daadwerklike verskil maak in die wêreld waarin ons leef. Vrywilligers is ons hartklop, ons vreugde en die hoopdraers van ons samelewing.

Maar bowenal was 2019 ’n jaar van dank aan Hom wat roep en stuur en nooit Sy genade van ons onttrek nie. 2019 was vir ons juis ’n jaar van genade; want dit wat ons bereik, is nie vir ons vanselfsprekend nie. Aan Hom alle dank wat ons roep en stuur en sonder ophou seën, met meer as wat ons kan noem. Daarom is wat ons doen nooit vir onsself nie, maar vir Hom wat ons roep en stuur en toerus. Aan Hom die allergrootste dank dat ons mag doen en kan doen waarvoor ons lief is. In die woorde van die ou boerekryger, Danie Theron, antwoord ons: “Ja, Generaal, ons sal gaan.”

Vir 2019 sê ons dankie!
Hannes Noëth
Pretoria
2019

Kliek hier om die Jaarverslag 2019 af te laai!