Jou kind se ‘Vrees vir syfers’ is moontlik ‘n erkende angstoestand

Soveel mense is steeds onder die indruk dat wiskunde-angs en syfer-angs ‘n dood-normale ‘vrees vir syfers’ is en dat hul kind dalk maar net nie wiskundig aangelê is nie. Navorsing toon egter dat jou kind se vrees vir wiskunde nie bloot toegeskryf kan word aan ‘onvoldoende wiskundige-vermoëns’ of kognitiewe probleme nie. Jou kind kan top wiskundige vermoëns hê, maar die angstoestand kan hy/sy wiskundige vermoëns en denke ontwrig en sy prestasies beïnvloed. In hierdie artikel brei Helpende Hand meer uit oor wat hierdie toestand behels en gee ook raad oor hoe dit behandel kan word.

Wiskunde-angs en syfer-angs is nie ‘n direkte aanduiding van jou kind se intelligensie nie. Dit kan meer gekategoriseer word as ‘n angsprobleem, as wat dit ‘n wiskunde-probleem is.  Studies toon dat genetika nie ‘n rol speel in wiskunde-angs nie (wel gewone angstoestande), maar dat eksterne faktore ‘n bepalende rol speel. Die angstoestand kan veroorsaak word deur ‘n negatiewe wiskunde-ervaring of dit kan bloot wees dat jou kind êrens begin voel het dat hy/’sy nie ‘goed’ genoeg is nie. Elke mislukking in ‘n wiskundetoets daarna kan weer die bal aan die rol sit en die angstoestand vererger.

Omdat wiskunde en syfers ook probleemoplossing verg, beïnvloed hierdie angs nie alleen die kind se akademiese prestasie in wiskunde nie, maar het ook ‘n invloed op alledaagse aktiwiteite in sy of haar lewe, waar besluitneming nodig is. Selfs aktiwiteite soos sport, wat besluitneming verg, kan hierdeur geaffekteer word. Indirek kan hierdie  toestand ook ‘n impak op jou kind se selfbeeld hê en of hul hulself as suksesvol beskou of nie.

 

Die eerste navorsers wat hierdie onderwerp bestudeer het was Dreger and Aiken (1957). ‘n Studie in 2013 onder 162 vrouens en 113 mans in die Internasionale Joernaal van Wetenskap en Navorsing  toon dat vrouens geneig is om meer wiskunde-angs as mans  te beleef. Laasgenoemde kan daaraan toegeskryf word dat vrouens dikwels hulself as ‘minder wiskundig’ teenoor mans te beskou.

‘n Artikel in Frontier’s in Psychology toon dat 11% van alle universiteitstudente se wiskunde-angs so hoog is dat hul berading moet ontvang, 68% van wiskunde-studente ervaar wiskunde-angs, 17% van die bevolking het hoë vlakke van wiskunde-angs.

Helpende Hand het navorsing gaan doen oor hoe wiskunde-angs behandel kan word en beveel die agt punte aan:

  • Ouers moet daarteen waak om negatief oor wiskunde voor hul kinders te praat. Vermy dit om wiskunde as ‘n ‘spookstorie’ te hanteer. As jy vir jou kind gaan vertel hoe ‘moeilik’ dit is en hoe jy as kind gesukkel het is die kanse baie groot dat hy wel angs daarvoor gaan ontwikkel.
  • Moedig kinders aan om die aard en oorsprong van hul wiskunde-angs te verwoord. Baie studente besef hulle is angstig en die vrees word dan deel van ‘n bose-kringloop. Hoe banger hul vir hul vrees word, hoe swakker presteer hul en hoe grotter word die vrees. Laat hulle daaroor praat voor dit ‘n grotter sneeubal-effek het.
  • ‘n Studie in 1998 deur, Smyth, toon dat studente aangemoedig moet word om hul vrese vir wiskunde uit te skryf. Laat hulle ook self dan daarby antwoord en uitskryf waarom hulle nie bang behoort te wees nie. Moedig hulle aan om woorde te gebruik soos ‘ ek het hard geleer.. ‘, ‘ek ken my tafels’, ‘ ek kan algebra doen en ek ken my formules.
  • Ramirez and Beilock het in 2011 bevind dat studente minder wiskunde-angs en meer beheer in die eksamen ervaar, indien hulle 10 minute voor die eksamen al hulle bekommernisse uitskryf.
  • Skep ‘n rustige leeromgewing met rustige agtergrondmusiek wat breinaktiwiteitstimuleer, soos barok- of klassieke musiek.
  • Moedig studente aan om hul tyd te neem tydens eksamens. Indien ‘n student angstig voel moet hul eers vir ‘n paar minute opkyk en hul gedagtes laat vaar na hul gunsteling plek.
  • Navorsing toon dat studente wat ‘n vorm van ekstra wiskundeklasse of -lesse ontvang na ure,of selfs net wiskundesomme op ‘n gereelde basis saam ‘n groep klasmaats oefen minder angs ervaar.
  • Kognitiewe gedragsterapie kan voorgestel word vir die herstelproses van ‘n kind met wiskunde-angs