Deur Dr. Danie Brink

Danie_Brink

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

In ’n onlangse opname deur Solidariteit Helpende Hand het 76% van mense aangedui dat hulle bedelaars heeltemal ignoreer, 11% het aangedui dat hulle kos gee terwyl 9% geld gee. Wat is jou teorie oor hulp aan hierdie mense en is jóú plan die regte plan?

Die meeste van ons wil graag behoeftiges in ons samelewing help waar ons kan, maar dikwels doen hierdie “hulp” meer skade as goed. Hulp aan mense wat swaarkry kan breedweg in drie kategorieë ingedeel word:

  1. Wanneer jy aan iemand in nood eenmalig iets gee van ’n materiële aard (kos, klere, geld), verlig jy daardie persoon se swaarkry.
  2. Wanneer jy aan ’n kind of jongmens ondersteuning bied in terme van akademiese opleiding, voorkom jy dat daardie persoon eendag gaan swaarkry, aangesien kwalifikasies ’n persoon grootliks teen werkloosheid verskans.
  3. Wanneer jy aan iemand in nood ’n volhoubare werk aanbied of skep, verbreek jy daardie persoon se swaarkry, vir solank as wat daardie persoon die werk behou.

Al drie vorme vir die aanspreek van mense se armoede is goeie planne. Die gevaar lê daarin dat ’n mens dink dat jy besig is om die een te doen, terwyl jy eintlik die ander een doen – en dít doen gereeld meer skade as goed.

Gewoonlik dink ons dat ons besig is om mense se armoede te verbreek, terwyl ons dit op ’n baie verkeerde manier verlig. Gaan dink maar terug aan die onlangse stories van bedelaars – gewoonlik slaag hulle daarin om jou te laat voel dat jy daardie laaste paar rand verskaf wat hulle op ’n stabiele pad weg van armoede gaan plaas. “Net hierdie geldjie vir verblyf of vervoer na die werk toe en alles is weer klopdisselboom.”

Wanneer ons dit doen waarsku ten minste drie gesaghebbende boeke ons sommer deur middel van hulle titels waarmee ons besig is: “When helping hurts”, “Toxic Charity” en “Dead Aid” basuin ondubbelsinnig uit waarmee ons besig is. Die goue draad dwarsdeur hierdie drie boeke is die waarskuwing dat verkeerde vorme van armoede-verligting afhanklikheid skep, menswaardigheid aantas, selfdissipline negatief raak, vir mense ’n struikelblok is op pad na herstel en die simptome aanspreek eerder as die oorsaak van die swaarkry.

Moet ons dan nooit mense se swaarkry verlig nie? Beslis is daar ruimte daarvoor, maar dan moet die volgende raad in ag geneem word:

  • Probeer om grootliks weerloses se armoede te verlig – kinders, bejaardes en gestremdes.
  • Verligting moet verkieslik deur ’n instansie gedoen word soos ’n kerk of niewinsgewende organisasie wat beheer uitoefen en mense goed monitor.
  • Die verligting van swaarkry van mense wat kan werk moet selde plaasvind en wanneer dit plaasvind van ’n tydelike aard wees – hoogstens drie maande.
  • Ken die agtergrond van diegene wie se swaarkry verlig word.

Wanneer ons dus hierdie raad in ag neem en ons is ernstig om te help sonder om “giftige” hulp aan te bied en nie deur ons hulp mense seermaak nie, dan sal ons beslis twee keer moet dink voordat ons hulp aan bedelaars op ’n straathoek gee. Inteendeel, in “When helping hurts” gaan Corbett en Fikkert sover as om te sê dat dit liefdeloos is om mense wat nie iets self wil doen nie, te ondersteun. Selfs niewinsgewende organisasies moet gereeld ’n bestekopname doen om seker te maak hulle trap nie in die strik van “dooie hulp” nie.

Hoe voorkom ek en jy mense se armoede?

Afrikaners het dwarsdeur hul geskiedenis daarin geslaag om opeenvolgende geslagte op ’n beter vlak van opvoeding te plaas wat beter geleenthede en welvaart tot gevolg gehad het. Byvoorbeeld, toe die boetes van die 1914 Rebelle deur landwye fondsinsamelings volledig betaal is, is die oorblywende geld belê in ’n beursfonds – daardie beursfonds is tans meer as R 100 miljoen sterk. Afrikaners toon nog altyd die geduld om te belê in kinders se toekoms en ons moet nie dat tydelike politieke druk en regeringsbeleid ons laat afsien van hierdie langtermyn belegging nie. Dit is nou maar eenmaal so – mense word opgehef deur opleiding. So wanneer jy dit oorweeg om jou Bybelse opdrag uit te voer en mense wat swaarkry te help, oorweeg dit om:

  • Die kinders van ’n behoeftige gesin by te staan met die koste vir goeie kwalifikasies. Hierdie kan ’n skooltassie, ’n toer, ekstra klasse, koshuisgeld of akademiese toerusting insluit.
  • Instansies soos Helpende Hand te ondersteun met hulle werk om fondse vir die studies van arm kinders beskikbaar te stel.
  • Saam met vriende of familie ’n beursfonds te stig.

Deur hierdie vorm van hulp aan die kinders van behoeftiges voorkom ons konkreet dat die siklus van armoede in die lewens van kinders herhaal. Die voorkoming van armoede verg tyd en geduld en bied ongelukkig nie die vinnige goedvoel wat verligting bied nie.

Wat van die verbreking van armoede?

Corbett en Fikkert moedig ons aan om hierdie moeilike taak aan te pak – om mense te help om deur hulle eie harde werk na hulleself om te sien. Lupton skryf in “Dead Aid” dat ons mense ontmagtig wanneer ons vir hulle dinge doen wat hulle vir hulleself deur hulle eie harde werk kan doen. Dus is dit baie waardig om mense wat swaarkry te help om werk te kry en daardie werk te behou. Nie ons almal is in die posisie om werk te verskaf aan mense wat swaarkry nie, maar ons moet altyd onthou dat om mense op die hoek van die straat in die rigting van werk aan te moedig volgens die meeste kenners baie beter is as om aan hulle die “dooie hulp” te bied van geld of iets te eet.

Juis weens alles wat hier bo genoem word, is die oorgrootte meerderheid van Helpende Hand se fokus op die voorkoming van ons mense se swaarkry. Omdat armoede-verbreking  deur werkskepping so ’n moeilike en allesomvattende fokus kan wees, betree ons hierdie terrein met versigtigheid en omdat die verligting van armoede soveel slaggate het, doen ons dit slegs wanneer alle faktore in ag geneem is en dan ook net op ’n tydelike basis.

Besonderhede van Donasie:

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Bankbesonderhede:

Rekeningnaam: SOLIDARITEIT HELPENDE HAND
Rekeningnommer: 62331447541
Tak: CENTURION
Takkode: 261-550
Verwysing: Studiefondssentrum

Laai die bankbesonderhede hier af: klik hier

Kontakbesonderhede:

Tel: 012 644 4428
E-pos: [email protected]
webwerf: https://studiefonds.co.za

Hoof van Studiefondsentrum 

Tel: 012 644 4428
E-pos: [email protected]
Sel: 076 424 1400