Skip to content

Jy is Afrikaans is Groot se borg! #JouAiG

Karlien van Jaarsveld, Steve Hofmeyr, Hannes Noëth (Helpende Hand), Barry Pretorius en Demi Lee Moore. Foto: Phillip Bruwer

Afrikaans is Groot (AiG) het Dinsdag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat die publiek die hoofborg van die Afrikaans is Groot-vertonings is en gaan bly. Daarom het AiG saam met Solidariteit Helpende Hand die #JouAiG – veldtog van stapel gestuur om intrinsieke klem te plaas op die eienaarskap wat kaartjiehouers in die AiG-ervaring het.

#JouAiG

Die #JouAiG-veldtog is ’n inisiatief wat deur die direksie en kunstenaars van Afrikaans is Groot en Helpende Hand gedryf word om vir die publiek as individue, groepe of besighede die geleentheid te bied om as ’n amptelike hoofborg van dié konsert in te tree.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die veldtog bestempel as ’n gemeenskapsinisiatief. “Jou Afrikaans is Groot! Maak nie saak waar jy die klem plaas in die sinsnede nie, jy lig JOU eienaarskap van Afrikaans en hierdie puik inisiatief uit,” het Noëth gesê. Volgens Noëth het Helpende Hand dié inisiatief voorgestel aangesien dié welsynsorganisasie amptelik as begunstigde van die AiG-konserte aangewys is en as gemeenskapsorganisasie nou graag deur sy lede terug wil ploeg in AiG.

Eksklusiewe gala vertoning

’n Eksklusiewe gala vertoning, genaamd #JouAiG, word op 28 November 2019 aangebied waar 6 000 kaartjies teen R700 elk aangebied sal word om as ’n hoofborg in te staan. Elke kaartjie wat verkoop word sal dien as ’n  bydrae tot die bestaan van AiG en elke kaartjiehouer van dié konsert sal ’n hoofborg van die konsert wees. Winste van die aand word ook aan Helpende Hand bemaak.

Elke hoofborg se naam sal op die skerms by die konserte vertoon word en in ’n spesiale AiG-2019 program verskyn. Hoofborge se name sal ook deel vorm van die Afrikaans is Groot-handelsmerk. Kaartjies vir die #JouAiG-vertoning sal van 29 Maart om 10:00 by Computicket beskikbaar wees.

Groepe en besighede sal ook as hoofborg kan intree deur om kaartjies vir die #JouAiG-vertoning te koop en dan vir Afrikaans is Groot by [email protected] te laat weet hoe hulle naam gelys moet word.

Trots en gemeenskapskrag

Volgens die direksie van AiG is die vertonings gebore uit ’n gees van trots vir die Afrikaanse taal, kultuur en gemeenskapskrag en het dié handelsmerk ’n kontrak met die publiek om hierdie gees uit te brei. “Ons kan net met groot dankbaarheid die borge bedank wat gehelp het om oor die jare van AiG ’n groot sukses te maak. Elke persoon wat ’n kaartjie koop bly egter steeds individueel ook die borg van AiG en maak ’n unieke bydrae tot hierdie skouspelagtige kultuurgeleentheid,” het Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van AiG, gesê.

Volgens Pretorius staan Afrikaans is Groot elke jaar op die skouers van sy kaartjiekopers en bou die organisasie elke jaar voort op sy verhouding met die publiek wat toustaan om kaartjies te koop. AiG het sedert 2012 meer as 592 000 konsertgangers met 83 vertonings in Pretoria en Kaapstad gedien.

Ondersteun ook só

Die publiek word ook genooi om hul ondersteuning te beken deur om saam met AiG-kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Riana Nel, Jay, Demi Lee Moore en Karlien van Jaarsveld die #JouAiG-plegverklaring aanlyn by www.jouaig.co.za te onderteken. Of SMS die woord JouAiG na 39950 (SMSe kos R2) om jou pleg te maak.

Die gewone konserte van Afrikaans is Groot 2019 vind plaas tussen 22 November en 1 Desember, by die Sun Arena by Time Square in Pretoria en daar kan uitgesien word na van die land se grootste kunstenaars soos, Theuns Jordaan, Bok van Blerk, Jay, Corlea, Bobby van Jaarsveld, Elvis Blue, Tarryn Lamb, Dewald Wasserfall, Ricus Nel, Snotkop en Ruhan du Toit. Karen Zoid is ook vanjaar weer terug. Oudergewoonte sal daar ook ’n paar verrassings wees.

Steve, Karlien en Demi Lee was Dinsdag by die aankondiging teenwoordig om hul steun aan die veldtog te verleen.

Pretorius het dit tyden die konferensie duidelik gemaak dat dié handelsmerk beslis nie hul bande met Steve gaan sny nie – ondanks MTN se onttrekking as borg van die konsertreeks weens Hofmeyr se deelname.

Kaartjies is slegs by Computicket aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels, beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied.

KYK hier na die volle konferensie:

Afrikaans is Groot (AIG) en Solidariteit Helpende Hand kondig Hoofborg vir die 2019 AIG-vertonings aan.

Afrikaans is Groot (AIG) en #HelpendeHand kondig Hoofborg vir die 2019 AIG-vertonings aan.

Posted by Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging on Tuesday, 26 March 2019