Jy sal jou oë nie kan glo nie

Soos wat mens ouer word, verswak jou visie met tyd. Katarakte, onder bejaardes, is ʼn groot probleem. Volgens die National Eye Institute (NEI) het bejaardes teen  die ouderdom van 80 jaar ʼn katarak of het dit alreeds chirurgies laat verwyder. Bejaardes tussen die ouderdom van 75 en 85 veg ook die stryd dat ʼn gedeelte van hulle visie belemmer word as gevolg van katarakte.

Vir baie bejaardes is dit ʼn traumatiese ervaring omdat hulle nie altyd die verandering begryp nie. Daaglikse aktiwiteite soos lees, en kosmaak raak by die dag meer uitdagend, bekendes se gesigte lyk anders en bejaardes se veiligheid word ook in gedrang gestel. Spoed en effektiwiteit verminder ook drasties. Alledaagse take en aktiwiteite raak stremmend en het dus ʼn groot invloed op bejaardes se gemoed.

ʼn Katarak is ‘n opeenhoping van proteïen op die ooglens wat die persoon se visie beïnvloed. Katarakte word dikwels vereenselwig met persone wat al ʼn rype ouderdom bereik het. Dit is as gevolg van die lens wat “oorwerk” raak met die jare se gebruik.

Simptome van katarakte is nie altyd voor die hand liggend nie. Die rede hiervoor is dat dit jare vat voordat mense bewus raak van die simptome van katarakte. Mense pas hul leefstyle geleidelik aan by die verandering. Kleure en visie vervaag dikwels, die glans van die ooglens word beïnvloed, en katarakte lei ook dikwels na swak nagvisie asook dubbelvisie.

Helpende Hand vat vanjaar hande met Dr. MC Niemand in Pretoria, wat jaarliks ‘n aantal behoeftige bejaardes se las ligter maak deur katarakchirurgie, tydens International Eye Care Awareness – week. Vir ‘n aansoekvorm of meer inligting oor die projek, stuur gerus ‘n epos na benetterautenbach@helpendehand.co.za.

Geskryf deur Marietjie Leonard