Kindertoelae: Miljarde rand nodig, maar honger na werkgeleenthede groei steeds

Indien Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, haar sin kry en die betaling van kindertoelae tot die ouderdom van 23 jaar verleng, sal ʼn bykomende R6 miljard tot R10,3 miljard vir kindertoelae in die Begroting ingeruim moet word.

Só het Solidariteit Helpende Hand gesê op die vooraand van die nasionale begrotingsrede wat môre deur die minister van finansies, Nhlanhla Nene, gelewer sal word. Die organisasie het gewaarsku dat so ’n besluit ondeurdag sal wees omdat dit ’n presedent sou skep dat die staat vir gesonde volwassenes moet sorg.

Dlamini het reeds verlede jaar aangekondig dat die moontlikheid ondersoek word om die afsnypunt vir die kindertoelae te verhoog van die huidige 18 jaar na 23 jaar. Intussen het City Press ook verlede maand berig dat gesprekke reeds aan die gang is om moontlik dié aanpassing te implementeer. Dit is nie duidelik wanneer die planne in werking gestel sal word indien dit goedgekeur word nie.

Nagenoeg 70% van die meer as 15,9 miljoen Suid-Afrikaners wat in 2013/14 vir toelae gekwalifiseer het, het die kindertoelaag ontvang. Volgens syfers wat Dlamini in Oktober bekendgemaak het, is R39,6 miljard in die 2013/14-boekjaar aan kindertoelae uitbetaal. Begrotingsdokumente toon aan dat die regering beplan om teen die einde van 2016/17 toelae aan 16,5 miljoen mense te betaal.

“In die 2013/14-belastingjaar is R310 miljard deur persoonlike inkomstebelasting ingesamel. Die uitbreiding van dié toelaag aan persone tot en met hul 23ste verjaardag sal dus ʼn addisionele belastinglas ekwivalent aan sowat 2% tot 3% van die totale persoonlike inkomstebelasting vir die jaar skep,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

“’n Staat wat sy mense leer om afhanklik te wees, bou nie ’n volhoubare toekoms nie,” waarsku Brink. “Die huidige stelsel waarin belastingbetalers leeggemelk word, is ook nie volhoubaar nie. Die verhoging van die ouderdomsperk sal bykomende druk op die belastingbetaler plaas en nog belastinggeld in ’n onvolhoubare stelsel verkwis.

“Ons sou graag wou sien dat die regering die privaat sektor deur ’n verskeidenheid van stappe aanmoedig om wins te maak, te groei en mense in diens te neem. Hoewel die regering die toelae regverdig deur aan te voer dat dit gelykheid en volhoubare gemeenskappe sal bevorder, het dit juis die teenoorgestelde uitwerking en lei dit net tot groter afhanklikheid van die staat.”