Kleuters kuier by ouetehuis in Sunnyside

Die kleuters van Siembamba Kleuterskool in Centurion het op 8 Maart 2018 gaan besoek aflê by  Harmonie-oord Ouetehuis in Sunnyside, Pretoria. Die doel van die besoek was om die meer as honderd bejaardes by die ouetehuis bietjie te bederf en ook om ʼn skenking wat die kleuterskool ingesamel het, aan die ouetehuis te oorhandig.

Solidariteit Helpende Hand het besluit om oumas en oupas wat liefde het om te gee, en behoeftige kleuters wat liefde nodig het, met mekaar in aanraking bring. Die groep kleuters van Siembamba Kleuterskool en die bejaardes van Harmonie-oord Ouetehuis in Pretoria het heerlik saam gekuier en na die bekende sanger Jan de Wet geluister.

Helpende Hand is gemotiveer om die weerloses onder ons te beskerm en wil daarom seker maak dat hulle ʼn vol en gelukkige lewe het deur onder meer interaksie met ander mense te hê. Baie bejaardes vereensaam, maar ʼn vriendelike kindergesiggie sal ʼn swaar hart gou weer opbeur. Dit is hoekom Helpende Hand die projek van stapel gestuur het.

Die dag is ook gebruik om die kos wat Siembamba Kleuterskool vir die tehuis ingesamel het, te oorhandig. Die kleuterskool het daarvan bewus geword dat party van die bejaardes in die ouetehuis finansieel swaar kry en nie altyd genoeg kos het om te eet nie. Daarom het die kleuterskool besluit om kos vir die bejaardes in te samel.

“Vir Helpende Hand is dit belangrik dat die gemeenskap betrokke raak om weerlose persone in die gemeenskap te ondersteun,” sê Benette Rautenbach, projekorganiseerder by Helpende Hand. “Ons was verheug toe die kleuterskool uit hul eie die inisiatief geneem het om die ouetehuis by te staan. Daarom het ons nie geskroom nie om ’n heerlike kuier-aksie te reël met Jan de Wet en ʼn kolwyntjie vir elke bejaarde en kleuter.”

Na afloop van die vermaak kon die bejaardes en kleuters ook saam inkleur en het hulle ook ʼn kroon vir elke kleuter gemaak.

Vir meer inligting oor projekte waarby bejaardes baat, besoek www.helpendehand.co.za of kontak vir Benette Rautenbach deur ʼn e-pos te stuur na benetterautenbach@helpendehand.co.za of skakel 012 644 4390.

Solidariteit Helpende Hand is ’n welsynsorganisasie geskoei op die beginsels van die Helpmekaar-beweging van 1949. Deur hulle projekte moedig Helpende Hand die publiek aan om die bejaardes in hul lewens uit te neem vir ʼn lekker bederfgeleentheid.