Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand
Phillip Bruwer
Mediaskakelbeampte
Die motiveringspreker Koben Hofmeyr van Louis Trichardt is Vrydag tydens die AfriSkuld LIG-konsert in die AfriForum Teater in Pretoria met die Mathys Roets-toekenning van Hoop vereer. Hofmeyr het in 2018 op 16-jarige ouderdom sy nek tydens ’n rugbywedstryd in Bela-Bela gebreek. Hy het desondanks merkwaardige herstel gemaak en het sy verhaal omskep in ’n boodskap van inspirasie as motiveringspreker en aanbieder.
Die Mathys Roets-toekenning, wat in 2022 ingestel is, dra die naam van sanger Mathys Roets. Hy is ná ’n motorfietsongeluk gedeeltelik verlam, maar het nooit sy geloof of sy musiek laat vaar nie. In Augustus 2022 het Roets verder sy vasberadenheid gewys toe hy, ná sy motor wat op ’n grondpad in die Karoo onklaar geraak het, alleen met sy rolstoel ’n lang stuk grondpad aangedurf het om hulp te kry. Hierdie gees van volharding en hoop lê aan die kern van die toekenning.
Vorige ontvangers van die toekenning sluit in:
• 2022 – Mathys Roets, vir sy lewenslange inspirasie en veerkrag ná sy ongeluk
• 2023 – Prop, vir sy rol en aanhoudende bydrae in die Afrikaanse musiekbedryf
• 2023 – Edwin Nelson, wat in 2023 albei sy bene in ’n ongeluk verloor het en steeds ’n simbool van deursettingsvermoë bly
• 2024 – Simoné Kruger, Paralimpiese diskusatleet wat internasionale prestasies behaal het
• 2025 – Koben Hofmeyr, vir sy herstel ná ’n nekbesering en sy voorbeeld as motiveringspreker
Die LIG-konsert, nou in sy vyfde jaar, is aangebied deur Solidariteit Helpende Hand en AfriSkuld. Vyf kunstenaars het die verhoog gedeel: Prop, Chris “Plakkies” Steyn, Die Ventertjies, Kosie Beukes en Arnold de Wet. Die konsert is toeganklik aangebied met rolstoelgeriewe, gidshonde en die bydrae van Dirk Venter, ’n gebaretaaltolk.
Die konsert ondersteun jaarliks ’n student met ’n gestremdheid deur middel van ’n rentevrye Solidariteit Helpende Hand-studielening. Tot dusver het onder meer ’n siggestremde regstudent en ’n student met gehoorverlies reeds van hierdie fonds gebruik gemaak.
René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, het gesê: “Die Mathys Roets-toekenning beklemtoon mense wat hulle beperkinge omskep in ’n bydrae tot ander. Dit is die hartklop van LIG.”
Volgens Roux wys die ontvangers van 2022 tot 2025 “hoe veerkrag, talent en diensbaarheid saam hoop wakker maak in ons gemeenskappe.”
Roux het ook al die borge bedank wat die geleentheid moontlike gemaak het.
Om betrokke te raak by Helpende Hand se projekte vir mense met gestremdhede, besoek helpendehand.co.za/nasionale-takke/




