0861 25 24 23 [email protected]

Dirk Hermann

 

Soos miljoene Suid-Afrikaners het Solidariteit alle vertroue in Jacob Zuma as president verloor. In ’n opname deur Kantar TNS, ’n wêreldwye marknavorsingsmaatskappy, wil 74% van Suid-Afrikaners hê Jacob Zuma moet bedank. Die probleem lê egter veel dieper as net dit. Daar is fundamentele probleme met die ANC se vermoë om te regeer en met sy onderliggende ideologie.

 

Die ANC kan struggle, maar kan nie regeer nie. Die verwydering van Jacob Zuma is egter ’n kritieke taktiese stap en druk om dit te bewerkstellig, moet uit alle oorde kom. Solidariteit steun die etlike burgerlike organisasies in hul pogings om Zuma te verwyder. Ons is egter nie naïef deur te dink dit bied die volle antwoord op Suid-Afrika se probleme nie.

 

Hoe reageer die Solidariteit Beweging op krisisse en onsekerhede in Suid-Afrika? Ons antwoord is om dít waaroor jy beheer het, uit te bou. Daar is baie dinge waaroor ons nié beheer het nie, maar ons gaan nie daaroor in ’n depressie verval nie.

 

Ons neem kennis daarvan, verreken dit en bou dan nog harder aan dié dinge waaroor ons wel beheer het. As die minister van finansies verwyder word, neem ons kennis; ons sal deelneem aan die debat, maar ons bou Solidariteit uit om nog sterker te wees om mense se werk te beskerm. Ons ontwikkel meer diensmetodes, lei personeel beter op en gebruik tegnologie om mense te bemagtig.

 

Om ’n antwoord te bied op die ekonomiese uitdagings bou ons kennisfabrieke om mense toe te rus. As die minister van hoër onderwys misluk om funksionele staatskolleges daar te stel, bou ons Sol-Tech met 1 000 voornemende ambagslui in die onderskeie fases van opleiding. Sol-Tech word algemeen beskou as een van die top- tegniese kolleges in die land.

 

Indien die transformasiebeheptheid van die hoëronderwyssektor oor universiteite spoel en #FeesMustFall alles wat voorkom breek, bou ons ’n nuwe universiteit, Akademia, wat staan vir wêreldklas- tersiêre opleiding in Afrikaans. By Akademia word studente nie net met kennis toegerus nie, maar met ’n onderliggende waardestelsel wat nodig is om in Suid-Afrika mee te ding.

 

Terwyl die staatstudiehulpstelsel disfunksioneel is en die terugbetalingskoers 5% beloop, betaal Solidariteit Helpende Hand se Studiefonds R40 miljoen aan studente uit en het ’n terugbetaalkoers van 97%.

 

Ons neem kennis daarvan dat die minister van maatskaplike ontwikkeling, wat moet instaan vir die brouwerk met die uitbetaling van maatskaplike toelaes, steeds stewig in die saal sit, maar terselfdertyd bou ons Solidariteit Helpende Hand uit. Meer as 4 000 behoeftige kleuters kry elke dag ’n maaltyd danksy Solidariteit Helpende Hand. Helpende Hand het 170 takke landswyd wat bykans ’n duisend maatskaplike projekte dwarsoor Suid-Afrika aanpak.

 

Ons sien dat Suid-Afrika se eie rasse-ideoloog en voormalige minister van sport nou die minister van polisie is. Ons neem kennis daarvan, maar in dieselfde week waarin dié aanstelling gedoen is, kon ons aankondig dat AfriForum sy 100ste gemeenskapbeveiligingstruktuur geskep het.

 

As munisipaliteite nie meer kan regeer nie, maak AfriForum honderde slaggate reg, toets water, maak straatligte reg, vervang pompe en help om stortingsterreine te rehabiliteer.

 

Ons sien wat gebeur by die SAUK, maar ons bou ’n nuwe media-instelling, Maroela Media, met 1,3 miljoen unieke maandelikse lesers wat dit nou die grootse Afrikaanse nuuswebblad in Suid-Afrika maak.

 

Ons help bou aan gemeenskapsradiostasies, die FAK, ons nuwe instelling vir voortgesette onderrig, bekend as S-Leer, ons bou aan finansiële instellings en nog meer.

 

Ons is almal woedend oor die manier waarop daar met ons belastinggeld omgegaan word, maar binne die Solidariteit Beweging maak ons van kleingeld groot geld. Elke lid van Solidariteit dra R10 per maand tot die Solidariteit Boufonds by. Baie R10’e word ’n Sol-Tech en ’n Akademia. Ons pak projekte soos Virseker aan en bied in samewerking met vennote ander finansiële dienste aan om fondse te genereer. Mense maak bemakings en trusts en individue maak skenkings.

 

Die krag om aktief te bou aan dít waaroor jy beheer het, is dat dit al hoe meer raak.

Twintig jaar gelede het die Mynwerkersunie 33 000 lede gehad en was funksioneel bankrot. Ons het aan die ou Mynwerkersunie begin bou. Vandag is 18 instellings deel van die Solidariteit Beweging; meer as 400 000 mense is lede van die onderskeie instellings; en ons 2020-begroting beloop R3,5 miljard rand. Die krag van hierdie geld lê daarin dat dit gemeenskapsgeld is. Die opbrengs van die geld is die bou van die gemeenskap.

 

Ons glo dat die krag van die gemeenskap sterker is as die krag van die individu en die mag van die staat. Ons toekoms en dié van ons kinders is té belangrik om dit aan die staat oor te laat. Ons kan nie ons toekoms daaraan oorlaat of Zuma bly of gly nie, of daar ’n moontlike regeringswisseling gaan plaasvind en die onsekerheid oor hoe ’n ander party of alliansie moontlik kan regeer nie. Ons kan nie ons kinders uitlewer aan dinge waaroor ons nie beheer het nie.

Ons mag mos nie ons toekoms aan ʼn wankelende staat uitkontrakteer nie.

 

Sodra ʼn gemeenskap besef hy is nie van ʼn sentrale mag vir sy toekoms afhanklik nie, voel mense bevry en het sommer nog meer energie om te bou. Ons moet beheer neem oor ons eie toekoms. As ons twyfel oor die toekoms moet ons dit bou. Hoe meer ons bou, hoe meer beheer kry ons.

 

Ons glo aan ʼn baie eenvoudige konsep en dit is vervat in die woordjie roeping. Dit beteken bloot dat jy op ʼn spesifieke tyd, op ʼn spesifieke plek ʼn spesifieke opdrag van die Here kry – met ander woorde doen net wat jy moet doen; doen dit goed en vertrou. Dit geld vir die Solidariteit Beweging, ander gemeenskapsinstellings en dit is ʼn waarheid wat vir elke gesin en individu geld.

 

Kom ons oefen almal baie druk uit om Zuma uit die kussings gelig te kry. Kom ons stem met mening om die ANC te verwyder, maar kom ons bou harder aan ’n toekoms waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Stig jou eie studiefonds:

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Bankbesonderhede:

Rekeningnaam: SOLIDARITEIT HELPENDE HAND
Rekeningnommer: 62331447541
Tak: CENTURION
Takkode: 261-550
Verwysing: Studiefondssentrum

Laai die bankbesonderhede hier af: klik hier

Kontakbesonderhede:

Tel: 012 644 4428
E-pos: [email protected]
webwerf: https://studiefonds.co.za

Hoof van Studiefondsentrum 

Tel: 012 644 4428
E-pos: [email protected]
Sel: 076 424 1400