Kuberwelstand: Beskerm jou kind in die digitale wêreld

Solidariteit Helpende Hand fokus in 2025 op welstand – en in ons moderne wêreld beteken dit meer as net liggaamlike en geestelike gesondheid. Aangesien tegnologie en die internet deesdae só deel is van ons alledaagse lewe, is kuberwelstand net so belangrik. Ons kinders word groot in ‘n wêreld waar aanlyn leer, sosiale media, speletjies en kitskommunikasie aan die orde van die dag is. Dit bring ongelooflike geleenthede mee, maar ook nuwe gevare – soos kuberafknouery, teistering en informasie-oorlading.

Wat is kuberwelstand?

Kuberwelstand beteken om gesond, veilig en gebalanseerd te leef in die kuberruimte. Dit behels hoe ons tegnologie gebruik – of dit ons emosioneel ondersteun of uitput, of dit ons met ander in aanraking bring of isoleer, en of ons bewus is van die gevare én ons digitale voetspoor.

Praktiese wenke vir ouers en onderwysers om kinders in die kuberruimte veilig te hou

  • Leer jou kind digitale selfrespek en -verantwoordelikheid.

Kinders moet verstaan dat hul gedrag aanlyn in die “regte” lewe gevolge het. Leer hulle om vriendelik, eerbiedig en versigtig te wees met wat hulle sê, deel of pos.

  • Stel grense vir skermtyd.

Moedig kinders aan om vanlyn tyd te maak vir die gesin en om te speel en rus. Dit help om ‘n balans te handhaaf tussen die digitale en regte wêreld.

Wenke:     Gebruik ‘n skermtyd-app en stel dit op stilte vir slaaptyd.
Maak ‘n reël: Geen foon by die etenstafel nie.

  • Wees bewus van kuberafknouery.

Ouers en onderwysers moet gereeld met kinders gesels oor hoe hulle aanlyn behandel word. Wees op die uitkyk vir tekens van angs, isolasie en buierigheid.

Moedig jou kind aan om enige afknouery dadelik aan te meld. Moet dit nie ignoreer nie. Skermskote kan as bewys gebruik word.

  • Bou ‘n kultuur van openhartigheid.

Kinders moet weet hulle kan met jou praat oor enigiets wat hulle aanlyn ongemaklik laat voel. Moenie oordeel nie – luister eers en reageer wys.

  • Beskerm persoonlike inligting.

Leer kinders van jongs af om nie persoonlike besonderhede soos hul adres, skool of foto’s aanlyn met vreemdelinge te deel nie.

  • Gebruik sterk wagwoorde om jou persoonlike inligting te beskerm.

Hoe sterker jou wagwoord is, hoe moeiliker is dit vir kuberkrakers om toegang tot jou inligting te kry.

  • Stel ‘n voorbeeld.

As volwassenes moet ons wysheid en matigheid modelleer in ons gebruik van tegnologie. As ons vir onsself grense stel, leer kinders die waarde van balans.

  • Maak tyd vir digitale geselsies.

Besoek saam webwerwe, kyk video’s of speel aanlyn speletjies met jou kind. Dit skep ‘n gedeelde digitale ervaring en hou jou op hoogte van wat hulle sien en beleef.

Die pad vorentoe

Die 4Vierde Industriële Revolusie (4IR) is hier en dit bring ongekende tegnologiese moontlikhede. Maar saam met KI, groot data en die internet van dinge moet ons leer om mens te bly in ‘n digitale wêreld.

Kuberwelstand is nie ‘n eenmalige aksie nie – dit is ‘n leefstyl van bewustheid, keuses en balans. Kom ons sorg saam dat ons kinders nie net veilige kuberburgers is nie, maar ook gesonde, gelukkige en wyse inwoners van hierdie nuwe wêreld.

Die kuberruimte is groot – maar ons gesin se welstand moet altyd groter en beter wees.