Liefdadigheidsorganisasies vat hande vir gratis mediese hulp

Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en Helene Basson, stigter van Operation Healing Hands, tydens die tjekoorhandiging. Foto: Phillip Bruwer

Twee liefdadigheidsorganisasies, Solidariteit Helpende Hand en Operation Healing Hands (OHH), het vandeesweek hande gevat om behoeftige mense met gratis mediese hulp by te staan en sodoende die las op staatshospitale se waglyste te verminder.

Helpende Hand is ’n welsynsorganisasie geskoei op die beginsels van die Helpmekaar-beweging van 1949. Helpende Hand fokus om ʼn antwoord op die Afrikaner-armoedekrisis te vind deur ʼn verskeidenheid van projekte.

OHH is ʼn inisiatief wat in 2016 deur ’n groep dokters in die private sektor begin is om pasiënte te help wat nie onder normale omstandighede mediese dienste kon bekostig nie. Die dokters en ander mediese personeel in hospitale in en om Pretoria bied sonder vergoeding hul tyd en vaardighede om minderbevoorregtes se lewens drasties te verander. Mense word gekeur deur ʼn finansiële, etiese en mediese komitee om seker te maak dat hulle voldoen aan die kriteria vir verskeie gratis operasies en mediese behandelings.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Helpende Hand, het tydens ’n spesiale geleentheid by Helpende Hand se hoofkantoor in Centurion die vennootskap aangekondig en gesê Helpende Hand glo in die werk wat OHH doen en die verskil wat dié organisasie in die gemeenskap maak.

“Die nood is groot onder ons mense wat daagliks en vinnig verarm. Ons kan nie oral alles doen wat ons wil nie, maar kan wel ’n verskil maak met die bietjie wat ons kan doen,” het Noëth gesê.

“Helpende Hand het kennis geneem van die goeie werk wat Operation Healing Hands verrig en die twee organisasies deel dieselfde waardes. Helpende Hand het ’n uitdaging dat ons nie altyd met die mediese behoeftes van hulpbehoewende mense kan help nie aangesien dié industrie gespesialiseerd en groot is. Ons voer alreeds ’n stryd want daar is nie eers genoeg kos om vir almal te gee wat dit benodig nie. Daarom verwelkom ons die vennootskap met die kundiges van Operation Healing Hands om die groot nood te verlig.”

Noëth het verder gesê hy hoop die vennootskap tussen die twee liefdadigheidsorganisasies sal uitbrei en groei. “Navorsing het keer op keer bewys dat as armoede toeslaan, gesinne se mediese fondse eerste afgeskaf word en daarna is daar nie verder hulp sou ’n krisis gebeur nie. Staatstoelae is net nie genoeg om vir sekere operasies te betaal wat die staat nie verskaf nie.”

Helpende Hand het ook tydens die geleentheid ’n skenking van R30 000 aan OHH oorhandig om die vennootskap te bekragtig.

“Ons verwelkom die skenking en samewerking met Helpende Hand want hoe meer geld ons kry hoe meer mense kan ons help,” het dr. Helene Basson, ’n ortopediese chirurg van Pretoria en stigter van OHH.

“Dit is vir ons ’n beginselsaak om hulpbehoewende mense gratis met ons dienste te help. Ons staan vir enkel mediese ingrepe wat lewens onherroeplik verander, soos kindertjies met mangel- of tandprobleme – dit is ’n klein operasie wat die kind se lewe handomkeer kan verander. Dit is operasies wat die kinders nie noodwendig by staatsinstellings sal ontvang nie. Dan is daar natuurlik ’n baie lang lys van groter gevalle soos knie- en heupvervangings, wat uiteraard baie duur is.”

Helpende Hand en Operation Healing Hands werk nou saam met organisasies soos die Tafelronde, Good Morning Angels en Caring Daisies om geld vir dié inisiatief in te samel en om persone te identifiseer wat hulp benodig. Vir meer inligting of om ’n skenking te maak, stuur ’n e-pos aan [email protected] of [email protected] of besoek www.ohhsa.net.