#Liewe Leser
Brief 80
In my kinderdae het ek my Desembervakansies op my grootouers se plaas deurgebring. Elke dag was ’n goeie, en nóg beter as ek saam met maats in die omgewing gespeel het. As kind het ek armoede nie goed geken nie, maar die gate in hul klere en die pakkie 10 sent-aartappelskyfies wat hulle daagliks vir middagete by die kafee gekoop het, was ’n goeie aanduiding dat ons uit verskillende huise kom. Dit het my egter nie gepla nie, want ek was ’n kind, en ek wou speel.
Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat ons almal arm is in iets. Ek was al arm in baie dinge … soos tyd, emosionele ondersteuning en kennis. Dit het my egter ’n rukkie geneem om te besef dat, al is ons arm in iets, ons steeds iets het om vir ander te gee.
Die maats wat in my kinderdae voortleef, was arm aan kos, maar hulle het tyd gehad om saam met my te speel. Ek was arm aan eensaamheid, maar ek kon my toebroodjies met my hulle deel. So vul ons mekaar se behoeftes aan.
Armoede het baie gesigte. In plaas daarvan om te fokus op die dinge wat ons kortkom, moet ons dalk eerder dink oor wat ons het en wat ons bereid is om met ander te deel.
Wat het ons?
Wat het ons wat ons met ander kan deel sonder om iets terug te verwag?
Of dit nou ’n grappie, ’n koppie koffie of ’n veilige spasie is …
Wat het ons ín ons om die wêreld ’n beter plek vir ander te maak?
En selfs al skuld die lewe skuld ons niks, is dit vir my ’n mooier vraag as: “Wat het ons nie?”
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
