#Liewe Leser
Een van die uitdagings waarmee ek soms worstel, is om tyd vir myself af te staan met die doel om te rus. Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, Hannes Noëth, het een keer tydens ‘n personeelopening gesê: “In plaas daarvan om te werk sodat ons kan rus, moet ons eerder rus sodat ons kan werk.”
Soms stel ons ander mense se belange bo ons eie en voel dit amper verkeerd om vir onsself ‘n blaaskans te gun, want mense het ons nodig en ons prioriteite sluit nie altyd ons eie belange in nie.
Alhoewel ons die verantwoordelikheid het om ons medemens te help, is ons ook verantwoordelik daarvoor om ons eie welstand te prioritiseer.
‘n Báie goeie vraag wat ‘n vriend onlangs vir my gevra het, was: Wanneer jy iemand help, vra jouself af: “Is jy besig om afhanklikheid of onafhanklikheid te kweek?”
Wat kweek jy wanneer jy iemand help, liewe Leser?
Soms help ons mekaar een keer sonder om twee keer te dink, want soms is een keer net genoeg, omdat die oplossing ‘n volhoubare uitkoms bied.
Tyd staan nie stil nie en prioriteite en verantwoordelikhede ook nie. Kyk mooi na mekaar, maar kyk ook mooi na jouself. As jy na jouself omsien, sal dit makliker wees om na die mens langs jou om te sien.
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5