#Liewe Leser
Volgens een van die wêreldberoemde komponiste, Ludwig van Beethoven, is dit moontlik dat musiek die wêreld kan verander. In Beethoven se geval het sy werk en sy storie beslis ‘n merk gemaak en het die wêreld vandag nog steeds ‘n groot waardering vir sy musiek.
Ek het gister weer na een van my gunstelingliedjies geluister en opnuut die lirieke waardeer – só asof dit die eerste keer was wat ek régtig daarna geluister en aanklank by dié liedjie gevind het. As gevolg hiervan het ek die Helpende Hande-liedjie weer gespeel en die volume ‘n bietjie harder gestel.
Riaan Benadé se stem val weg met:
Soos Moses se arms kry ons leiers soms swaar
Soos Aaron en Hur is ons ook daar om die ander te hou
Van die wat veg vir ons saak
Net voor die einde van die liedjie sing Riaan Benadé op ‘n hoë noot die volgende:
Staan voor en hou hoog die nood van jou medemense
Doen wat jy kan waar jy is!
Dit val my toe by dat hierdie liedjie ‘n hele paar waardes uitsonder, onder andere roeping.
Soms gebeur daar dinge in ons lewens wat ons met baie onsekerhede en vrae los. Vrae soos: Is ek ooit op die regte plek? Vir wie moet ek staan? En maak ek nog ‘n volhoubare verskil?
Selfs al het ons nie dadelik die antwoorde op al ons vrae nie, weet ons dat ons geroep is vir ‘n tyd soos hierdie.
Doen wat jy kan, ongeag van waar jy is, en doen dit goed.
Jy mag dalk net daar wees waar dit nodig is om te wees.
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5