#Liewe Leser
Dis ons 85ste brief! Wat ‘n voorreg is dit nie om vir jou te kan skryf nie. Deur die loop van die jaar het ek heelwat lewenslesse geleer en gedagtes versamel. Hier is tien lewenslesse wat ek hierdie jaar geleer het:
- Wysheid vanuit C.J. Langenhoven se pen: “Die man na wie ek soek, is nie die een wat die minste foute maak nie, maar die een wat die meeste foute regmaak.”
- Soms moet jy geduldig wees met die mense wat ongeduldig is.
- Jy mag verlang na die mense wat jy langs die pad verloor het.
- Moet nooit die waarde en voorreg van ‘n foonoproep of boodskap vanaf jou geliefdes onderskat nie. Máák tyd. Praat met jou mense!
- Die vriende wat onverwagse drukkies van die kant af uitdeel, is soms die vriende wat ‘n drukkie nodig het.
- Almal se lewens hoef nie vir jou sin te maak nie. Selfs eende loop asof hulle heeldag perdgery het.
- As jy die vermoë het om iemand te laat lag, doen dit! Deel die grappie. Sing die liedjie. Dans asof niemand kyk nie. Jy weet nie wanneer laas iemand gelag het nie.
- Die waarheid kan vir ‘n rukkie seermaak en dan is dit verby. Die seer wat ‘n leuen veroorsaak, is egter langdurig en sukkel om gesond te word.
- Soms is die luukse opsie nie die opsie wat jy nodig gehad het nie. Waardeer wat jy het.
- Laat onnodige kritiek soos water oor ‘n eend se rug afgly … Jy kan kies watter kritiek vir jou krities is.
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5