Liewe Leser
Ek het grootgeword met een van Carike Keuzenkamp se bekendste liedjies, Die Lappop.
Iemand het ‘n lappop op die ashoop weggegooi
Sy was gedaan en stukkend, verbleek en nie meer mooi nie
Op die ashoop hoor sy stemme praat en dié verwelkom haar
Maar, o, ellende toe sy kyk, wat sien die lappop daar?
Net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen
‘n Grammofoonplaat en ‘n kous sonder maat
Net ‘n leë bottel bier, ‘n verlepte angelier
‘n Gelapte binneband en ‘n ou koerant…
In ‘n neutedop gaan die liedjie oor ‘n lappop wat haarself op ‘n ashoop vind en besluit het dat sy nie daar hoort nie. Die liedjie vertel verder dat die karaktertjies in die storie baie hard probeer het om die lappop by hulle te hou deur haar as die ashoopkoningin te kroon. Dit het die lappoppie laat besluit om met trots en vrede in haar op die ashoop te bly.
Kan jy jouself indink, liewe Leser?
Daar lê sy, die lappop, met haar gestikte glimlag effens skeef, tussen die ashoop se stof en rommel. Haar rok, nou verslete, dra steeds ‘n dowwe herinnering aan helder kinderjare toe klein handjies aan haar vasgeklou het en met haar in wiegende dansies deur die lug geswaai het. Dié lappop se werk was om sekuriteit en veiligheid onder kinders te skep, maar nou is sy stil en haar gestopte lyf half begrawe onder ou koerante en gebreekte glas, want niemand het haar meer nodig nie.
Verwerping en eensaamheid is vir baie van ons ‘n bekende gevoel, daarom dink ek dat dié liedjie ‘n goeie voorbeeld van hoop en welstand is.
Ongeag waar die lappop lê, bring sy steeds ‘n vreemde gevoel van welstand. Dis nie die perfekte omgewing wat haar waarde bepaal nie, maar eerder die gedagte dat sy eens iemand se troos en vreugde was en die broodnodige sekuriteit vir iemand gegee het. Sy herinner ons daaraan dat selfs die kleinste dingetjies ‘n groot impak kan hê en dat iets wat verlate lyk, steeds ‘n storie dra.
Welstand is immers nie net waar jy is nie, maar die vermoë om weer op te staan, selfs tussen die ashoop se stof en rommel, en vir jou uitdagings kans te sien. Die Here plaas ons op ‘n spesifieke tyd en plek sodat ons in geborgenheid en verbondenheid betekenisvol en voluit ons opdragte kan uitleef.
In Psalm 46:11 staan daar: “Bedaar en erken dat Ek God is, Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.”
Ons hoef nie altyd te weet waarom dinge gebeur nie, want Gód weet. Ons moet net opdaag en doen wat Hy vra.
Hilde
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
