Liewe Leser

Ek hou nou al jare lank ’n vergeelde kinderfoto van my oupa in my beursie. Aan my kar se sleutelhouer is daar ’n “Eendracht maakt macht”-knoop vasgemaak wat ook syne was. Soms verander die sleutel, maar die knopie bly aan my sy.

Ek het my oupa net sewe jaar geken, maar sewe jaar is séwe jaar … Wat ’n voorreg. Wat ek van hom kan onthou, is dat hy baie mense laat lag het, lief was vir drop, baie goed kon teken, uiters goed kon fluit, gereeld in die natuur was, en die oupa-titel altyd met trots gedra het. Dit was in sy geaardheid om vriendskappe langs die pad te vorm en vir ure met vreemdelinge te praat asof hy hulle al jare lank ken. Mense was lief vir hom, omdat hy hý was.

Ná sy dood het ek hom stuk-stuk deur sy projekte op die plaas en mense leer ken. Volgens my ouers was die plaashuis se deure oop vir almal en het my oupa gereeld onbeplande kuiers gereël en mense ingenooi. In daardie huis was jy altyd welkom en alhoewel hulle nie baie gehad het nie, was daar altyd ’n poging van hulle kant af om iets vir hul medemens aan te bied.

In die huis waarin ek grootgeword het, was daar een vraag wat my ouers gereeld vir mekaar gevra het wanneer ons gaste sou ontvang: “Wat het ons?” Met ander woorde, wat het ons in ons koskaste wat ons vir ons gaste kan aanbied?

Iets wat ek by my ouers en grootouers kan leer, is hul voorbereiding wanneer iemand onverwags kom kuier. Dit laat my dink …

Wat het ons?

Wat het ons wat ons met ander kan deel sonder om iets terug te verwag?

Of dit nou ’n grappie, ’n koppie koffie of ’n veilige ruimte is …

Wat het ons ín ons om die wêreld ’n beter plek vir ander te maak?

En selfs al skuld die lewe ons niks, is dit vir my ’n mooier vraag as: “Wat het ons nie?”

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5