Liewe Leser

In my kinderdae het my ma elke oggend vir my vitamienaanvullings gegee. Dié medikasie was gewoonlik in die vorm van ‘n dinosourus of wilde dier beskikbaar en was vir kinders gemaak om te kou. Dit het my as kind, altyd aan bordkryt laat dink en het ek nie regtig van die poeiernasmaak gehou nie, daarom het ek kanse gewaag en dié vitamienaanvulling ontduik waar ek kon. My ma het altyd na hierdie pille verwys. Sy het later snuf in die neus gekry dat ek nie altyd dié pilletjies gehoorsaam gekou het nie. Dis toe dat sy elke oggend vir my begin vra het of ek al my klippe gekou het …

Daar is ‘n ou gesegde wat lui: “As jy klippe kan kou, kan jy enigiets doen.” Ons sê dit gewoonlik wanneer ons uitdagings soos ‘n berg voor ons staan, maar steeds kies om dié berg uitdagings uit te klim.

In die natuur word klippe gereeld gevorm. Soos klippe in ‘n rivier glad geslyp word, slyp die uitdagings van die lewe ons  gees ook. Soms struikel ons oor die klippe op ons pad en staan ons met elke val net weer sterker op. Volharding vra dat ons net soos ‘n klip bly staan waar ons geplaas is, en dat ons vasberade sal wees om nie te breek nie.

As ons klippe kan gebruik om brûe en fondasies te bou, kan ons ook die lewenslesse gebruik om mekaar op te bou. Dit beteken nie dat ons mekaar se klippe noodwendig moet dra nie, maar eerder dat ons rotsvas by iemand sal staan oor wie die storms spoel. Om in geloof te volhard, beteken dat ons vir die klippe kans sien, want in Psalm18:3 staan daar: “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.”

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5