Liewe Leser
Ek was onlangs in gesprek met iemand wat aan my verduidelik het dat liefde nie voorwaardelik moet wees nie, met ander woorde jy moet dit gee sonder om iets terug te verwag. Dit laat my dink aan ‘n bekende aanhaling van C.J. Langenhoven. Hy het geskryf: “Die liefde is nie kunsmatig nie.”
Een van die grootste behoeftes wat in baie van ons lê, is om geliefd te voel en aanvaar te word – nie omdat ons presteer of suksesvol voorkom nie, maar eerder oor wie ons is. Wanneer ons iemand onvoorwaardelik liefhet, is daar nie vrae, eise of voorwaardes nie, maar eerder onbaatsugtigheid, sekuriteit, dankbaarheid en omgee. Dis daar, omdat jy vir iemand meer as genoeg is. Dis daar, omdat jy jý is!
Soms vergeet ons dat God ons eerste liefgehad het, juis omdat ons hierdie liefde in die samelewing met hoë verwagtinge probeer soek. Wanneer ons God se liefde ervaar, leer ons om dit aan ander mense oor te dra en kyk ons met meer verdraagsaamheid, genade en hoop na mekaar.
Onvoorwaardelike liefde is daar – selfs al voel dit vir ons of ons dit nie altyd verdien of ontvang nie. Dis daar, omdat God se liefde eerste daar was en dís die liefde wat meer as genoeg is.
Hilde
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
