Liewe Leser

Ek het ‘n rukkie terug ons familie begraafplaas besoek en na ons voorouers se grafstene gaan kyk. Van die datums dateer terug tot 1800’s. Daar is heelwat kindergrafte. Hulle dood moes báie seer gewees het.

My ouma het seker gemaak dat ons van kindsbeen af weet waar die plaas is en waar sy bly. As kind was dit soms frustrerend om die posadres en die name van elke landmerk elke jaar agter haar aan te sê, maar dit was vir haar belangrik dat ons weet waar ons vandaan kom en dat ons hier óók hoort – selfs al sit ons ver. 

Op die plaas ervaar ons dikwels vier seisoene in ‘n dag. Tog was my ouma se laaste dag op die plaas klokhelder en asembenemend mooi. Elke blaar, spinnerak, blom en voëlnes was op sy plek. Daar was orde. Ons het haar versigtig in haar stootwaentjie uit die huis gestoot en haar kans gegee om vir oulaas na haar wêreld te kyk voordat sy teruggekeer het ouetehuis toe. Sy het áltyd raakgesien waar op die plaas opknappingswerk nodig was, maar daardie dag het sy haar kop vir die eerste keer goedkeurend geknik en dié woorde uit Genesis aangehaal: “Dit is goed.” Só asof haar aardsewerk afgehandel is. Vir die eerste keer het sy mense nodig gehad wat na haar kon omsien.

Wat ek by my ouma geleer het, is dat die lewe nie net uit groot oomblikke bestaan nie; dis eerder die klein, eenvoudige dade wat belangrik is, soos ‘n vriendelike glimlag, ‘n sagte handdruk of ‘n koppie tee saam met iemand wat jou liefhet. Bejaardes het ’n manier om dinge raak te sien wat ons dikwels miskyk. Hulle herinner ons daaraan dat sukses nie net in materiële dinge lê nie, maar in die rykdom van verhoudings en die nalatenskap van ons erfenis en liefde.

Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut loop ‘n pad saam met mense wat ‘n onmisbare rol in ons gemeenskappe speel. Die taak van ‘n tuisversorger is meer as net ‘n werk – dit is ‘n roeping wat vereis dat hulle onbaatsugtig en met liefde na mense omsien. Dis ‘n onbaatsugtige lewenstaak wat die hoop weer terugbring.

Dr. Elsha Herman se woorde bly my by: “Elke student se hande en hart word tot diens geroep. Mag ons by die SHH Opleidingsinstituut nooit moeg word om hulle hande en harte met oorgawe te vorm nie.”

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5