Liewe Leser
Die volgende motiverende aanhaling doen die rondte op digitale platforms:
“Jy hoef net twee mense in die lewe trots te maak: jou 8-jarige self en jou 80-jarige self. Hulle verteenwoordig verskillende stadiums van die lewe en dien as die herinneringe wat werklik saak maak.”
Ek is nie seker wie dit geskryf het nie, maar ek is tans tussen dié twee stadiums. Ek het my 8-jarige self al ontmoet: Sy was ‘n klein, nuuskierige lyfie met ‘n groot lus vir die lewe, veilig en beskut, met al die basiese behoeftes tot haar beskikking.
Ek sal nog ‘n ver pad moet stap om my 80-jarige self te ontmoet, maar ek weet namate mense ouer word, verlang hulle soms na dieselfde gevoel van geborgenheid, want die verlies aan onafhanklikheid, geliefdes en gesondheid kan onsekerheid bring. Behalwe vir die koue, is dit seker een van die redes waarom bejaardes ‘n kombers oor hul skote vou–om daardie gevoel van geborgenheid te skep.
Soos wat ‘n mens ouer word, besef jy vinnig dat mense uitfaseer en soms voel dit vir ons of ons ons lewenspaadjie alleen moet stap. Eensaamheid en verstoting lei ook tot onsekerheid. Dan is die broodnodige gedagte dat ons ten spyte van ons uitdagings en trauma, steeds hier hoort.
Geborgenheid kan in verskillende vorms gesien word, soos ’n kind wat ’n ouer se hand vashou of ’n bejaarde wat in ’n liefdevolle omgewing versorg word. Dis duidelik dat geborgenheid ’n fundamentele behoefte in gemeenskappe is, daarom streef Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers na ’n veilige, liefdevolle ruimte vir kinders, bejaardes, gesinne en mense met gestremdhede. Hulle is die hoopdraers wat jou 8-jarige en 80-jarige self los met die wete dat jy steeds hier hoort, ongeag in watter stadium van jou lewe jy is en met watter uitdagings jy sit.
Op die ou end sal jy nie net twee mense in jou lewe trots maak nie. Jy kan jou medemens deurlopend help om ook trots te wees op hulself, deur hulle geborge te laat voel.
Hilde
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
