Liewe Leser
‘n Bekende aanhaling van Jim Carrey lui soos volg: “As jy nie in die oomblik leef nie, sien jy óf uit na onsekerheid óf na pyn en spyt.”
In ’n wêreld waar ons toekomsgerig dink en dikwels oorweldig voel deur die lewe se gejaag, vergeet ons soms om stil te staan, asem te skep en die oomblik waarin ons is te waardeer.
Dis daardie oomblik wanneer ons lag sonder om te wonder hoe ons vir ander klink en dans asof niemand kyk nie. Dis wanneer ons vir ‘n oomblik die selfoonkameras bêre en tyd vir ‘n klein rukkie stil staan. Gewoonlik het ons groot waardering vir die eenvoudige dinge in die lewe juis omdat dit ons tot stilstand bring, soos die eerste koppie boeretroos voor dagbreek, ‘n gesprek met ‘n geliefde, en selfs die reuk van die grond na ‘n somermiddag se onverwagse reënbui.
Hoe meer ons ons vreugde in die eenvoudige dinge van ons daaglikse lewe soek, hoe groter is die kans dat ons meer van hierdie stilstaanoomblikke sal hê. As ek by Jim Carrey se aanhaling kan aansluit, sou ek sê as ons in die oomblik wil leef, moet ons vandag begin deur vir ‘n oomblik stil te word en te kyk waar ons is.
In plaas daarvan dat ons opsien teen die onsekerhede, terugkyk na wat ons nie kan verander nie en onsself afvra waarheen ons op pad is, moet ons vir ‘n rukkie stilstaan en waardeer waar ons tans is, want gister is reeds verby en môre kom dalk nooit nie.
Hilde
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
