Liewe Leser

My ouers het altwee studielenings gehad. In my kinderdae het hulle vir ons gereeld vertel van die vakansiewerke wat hulle moes doen om hul studieskuld af te betaal. In daardie tyd was daar eenvoudig net nie geld wat my grootouers kon gee sodat my ouers kan studeer nie. Op hulle eie manier het my ouma’s en oupa’s hulle kinders ondersteun waar hulle kon, maar as jongmense moes altwee my ouers self ’n plan maak. My pa het tydens vakansies op die spoorweë gewerk en my ma in ‘n biblioteek. Met selfdissipline het hulle hul sente bymekaargemaak, getrou gespaar  en hard studeer totdat hul studies voltooi was. 

Vandag se wêreld lyk ‘n bietjie anders as die wêreld waarin ons ouers en grootouers grootgeword het. Treinstasies is minder betroubaar, poskantore is toe, biblioteke sien ons min en werksgeleenthede bly skaars.

Soms kry ons net een geleentheid om aan ons toekomsdroom te bou en ‘n droom te verwesenlik. As ons deur ‘n positiewe lens daarna kyk, is daardie één kans al wat ons nodig het om onsself te bewys. Vir baie jongmense beteken dit een kans om te studeer, om uit ‘n kringloop van armoede te breek en ‘n nuwe pad vorentoe te skep.

Solidariteit Helpende Hand se Studietrust het sy eie sukses-stories om te vertel. Dis meer as net ‘n beursfonds. Dit is ‘n gemeenskap wat studente ondersteun, aanmoedig en toerus vir ‘n voorspoedige en volhoubare toekoms. Met finansiële hulp, lewensvaardigheidsopleiding en mentorskap verseker hulle dat jongmense nie net hul studies voltooi nie, maar ook selfvertroue en vaardighede ontwikkel sodat hulle ‘n verskil in hul gemeenskap kan maak. Wanneer studente hul studies suksesvol voltooi, verhoog die waarskynlikheid dat hulle sal werk kry. En werksgeleenthede sal nie net hul eie welvaart bevorder nie, maar ook die ekonomie van hul gemeenskap.

Ek is dankbaar vir ouers wat my geleer het om my drome na te jaag en hard te werk, net soos die jong studente wat dankbaar is dat die Studietrust vir hulle daardie één kans gee, want dié wat wíl studeer, moet kán studeer.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5