Liewe Leser
Een van my gunstelingherinneringe van my kinderdae wat bly voortleef, is een van my oupa se plaashonde. Ek het dié skaaphond van kleins af geken en my grootouers het hom Kaptein genoem.
In daardie dae het my grootouers ‘n gemengde boerdery gehad: skape, varke, koeie en selfs aarbeie. Dit was die skaaphond se werk om die blou ape en bobbejane van alles af weg te hou en as ‘n wagter vir die plaas op te tree. Dié hond het sy opdrag tot op sy laaste dag buitengewoon goed uitgevoer. Die plaas en my oupa kon op hom staatmaak., want Kaptein was slim en lojaal – só asof hy die reëls van die lewe geken het.
Kaptein was gehoorsaam en getrou en kon buitengewoon goed hardloop. Hy was ook baie lief vir kinders. Wanneer Kaptein moes werk, het hy gewerk, maar as ek buite wou speel, het hy seker gemaak dat hy saamspeel. Sy gunstelingspeletjie was om ‘n massiewe tennisbal met sy neus in die lug in op te bons wanneer ek dit in sy rigting gegooi het.
Kaptein se leefwyse het my aan Prediker 3 laat dink. “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd…” Elke ding het sy tyd soos God dit bepaal.
Kaptein kon sy tyd bestuur. Met die tyd wat vir hom gegee is en met sy teenwoordigheid het hy die wêreld ‘n beter plek gemaak. Mense kon op hom staatmaak, want hy het elke dag opgedaag vir dit waarvoor hy geroep was. Dalk kan ons iets by hom leer en dieselfde begin doen deur net op te daag.
Hilde
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
