Liewe Leser

Arnoldus Pannevis het ‘n goeie kennis van Nederlands, Grieks, Latyn, Engels, Frans, Duits, Italiaans, Sweeds, Deens en Spaans gehad. Op 11 Julie 1866 het hy in Kaapstad aangekom en het hy as onderwyser Grieks en Latyn by die Paarl Gimnasium aangebied. Die Kaaps-Hollandse-taal het hom so beïndruk, dat hy dit ‘n voortreflike en selfstandige taal genoem het. Mettertyd het Pannevis dié taal Afrikaans begin genoem. Dit het later vir hom ook duidelik geword dat Afrikaans onderdruk word en dit het daartoe gelei dat hy saam met sy medetaalstryders, C.P. Hoogenhout en ds. S.J. du Toit geveg het vir die amptelike erkenning van Afrikaans in Suid-Afrika. Pannevis was boonop ‘n gelowige mens, daarom was dit vir hom noodsaaklik dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word en die eredienste in Afrikaans en Nederlands bevorder moes word.

Iets waaroor ek wonder, is waarom Pannevis as ’n taalstryder vir Afrikaans opgetree het as hy nog tien ander tale ook geken het. Watter eienskappe van Afrikaans het vir Pannevis so sterk uitgestaan dat hy vir die stryd kans gesien het? Miskien was dit die onderdrukking van Afrikaans wat vir Pannevis gefrustreer het en was dit vir hom onaanvaarbaar dat Afrikaans as ‘n kombuistaal beskou is. Miskien was dit die mense wat Afrikaans gepraat het en sy betrokkenheid in die gemeenskap. Dalk was dit die groeipotensiaal wat in Afrikaans gelê het? Hoe dit ook al sy, Afrikaans was vir Pannevis belangrik.

Op 8 Mei 1925 is Afrikaans uiteindelik as ‘n amptelike taal in Suid-Afrika erken.

Vir Pannevis en se mede-Afrikaanssprekendes het dit baie beteken.

Wat beteken dit vir ons wat nie daar was nie?

Miskien moet ons ‘n bietjie verder dink en besef dat dit op 8 Mei 1925 nie nét oor die erkenning van Afrikaans as ‘n amptelike taal gegaan het nie, maar ook oor die erkenning van die mense wat die taal gepraat en -geskryf het. Dit het gegaan oor die erkenning van daardie mense se bestaan, hulle kultuur en hulle vermoë om iets hul eie te maak. Dit het gegaan oor die mense se identiteit en hulle plek in hulle land. Die erkenning van Afrikaans as ‘n amptelike taal het weereens bevestig dat ons hier hoort.

Sedertdien word Afrikaans amptelik gebruik in die kerk, maar ook in ons huise, kos, besighede, skole, wetenskap, tegnologie, die kunste en in die werksplek. Dis ‘n moedertaal en huistaal. Afrikaans het ‘n plek. Dis nie net sag nie, maar veerkragtig. Dis opgebou en het ontwikkel – ten spyte van die uitdagings.

Afrikaans lééf.

C.J. Langenhoven het gesê as die kortpad die beste was, sou die hoofpad daar geloop het.

Ja, liewe Leser, dis honderd jaar later en kyk hoe ver het ons gekom. Vandag kan ek vir jou ‘n brief in Afrikaans skryf en jy sal dit kan lees en verstaan.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5