Liewe Leser
Die eerste keer wat ek Solidariteit Helpende Hand se handelsmerk gesien het, was in die Wes-Kaap. Ek het as ’n jong werkende in die Paarl gebly en wou iets vir my verjaardag aan die gemeenskap teruggee. ’n Kollega en mentor het voorgestel dat as ek iets vir liefdadigheid wil gee, moet ek dit vir die Paarl se Ons Winkel skenk. Ek verjaar in die winter, daarom het ek baba- en kinderklere gekoop, foto’s van die klere en die Ons Winkel se bord geneem en mense aanlyn probeer aanmoedig om ’n Racheltjie of Boetie teen die koue te beskerm deur Ons Winkels te ondersteun.
Dit het ’n rukkie geneem voordat ek besef het die Ons Winkels is landswyd en dat dit nie nodig is om klere te koop om te skenk nie. Dis ’n skenkerwinkel wat amper enige skenkings aanvaar – ja, ook jou ouma se valstande! – en teen ’n bekostigbare prys aan die publiek verkoop.
My grootouers se plaashuis is in die Oos-Kaap. Na my ouma se dood moes ons van ’n paar goed in dié huis ontslae raak. My ouma was lief daarvoor om goed te koop en weens haar ouderdom het sy soms vergeet wat sy gekoop het en weer van dieselfde goed gekoop. Een van die baie goed wat ons wou weggee, was ’n stel oranje plastiekglase. My ouma het dit nooit gebruik nie en die kans dat ons dit sou gebruik, was maar skraal, daarom wou ons dit aan die Ons Winkel in Humansdorp skenk. Wat ek en my gesin glad nie verwag het nie, was om minute, nadat ons die glase geskenk het, ’n koper uit die winkel te sien stap met dié einste glase in haar hand. Ja, liewe Leser, een man se oud is ’n ander man se goud. Sedertdien skenk ons al ons tweedehandse items aan ons naaste Ons Winkel.
Op die oomblik is daar ongeveer 127 Ons Winkels reg oor die land. Met die wins van die Ons Winkels se verkope bied Solidariteit Helpende Hand maatskaplike hulp aan plaaslike gemeenskappe, werkgeleenthede en studiefondse vir jongmense wat wil gaan studeer maar dit nie kan bekostig nie.
Jou item wat jy skenk, is dus nie net ’n item nie, dit is ’n toekoms.
My ouma se glase was ook nie net glase nie, maar deel van ‘n geleentheid om nog volhoubare besighede in die gemeenskap te skep.
Dit is my winkel, dit is jou winkel, dit is Ons Winkel.
Ek sê elke dorp het ’n Ons Winkel nodig.
Wat sê jy?
Hilde
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
